’n Boer van Ashton, wat tereggestaan het op ’n aanklag van moord, is verlede Dinsdag op sy plaas, Roselandia, in sy tamatielande dood aangetref.

Die polisie het bevestig dat ’n geregtelike ondersoek na die dood van Colin Conradie (49) geopen is. Gerugte is die afgelope week deur die Ashton-vallei versprei dat Conradie na bewering sy eie lewe geneem het.

Conradie en twee werknemers, Andrew Wagenaar en Wilhelm Lourens, is aangekla van die moord op Duwayne Fortuin tussen 15 en 16 September 2019.

Fortuin het na bewering teerpale op Conradie se plaas, waar hy met rose en vrugtebome geboer het, gesteel. Fortuin is na bewering op ’n bakkie gelaai, aangerand, onder meer met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en op die Stormsvleipad buite Bonnievale vir dood agtergelaat.

’n Plaasarbeider het hom later daar aangetref en alarm gemaak. Fortuin is per helikopter na die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad geneem, waar hy op 19 Oktober 2019 dood is.

Conradie is twee jaar gelede vrygespreek van die moord op Colin Cloete (51), wat dood is nadat hy glo in die tamatieboorde op Conradie se plaas betrap is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article