Op Woensdag (9 Oktober) het die moordbeskuldigde, Mark Claassen (41) van Elsiesrivier, selfdood gepleeg toe hy hom in ‘n aanhoudingsel by die Bonnievale-landdroshof gehang het.
Claassen het na bewering sy vriendin Denovia van Wyngaardt (30) – oorspronklik van Bonnievale – in die vroeë oggend-ure van 5 Oktober doodgesteek terwyl hulle by familie in Bonnievale gekuier het.
Die paartjie het tot en met hul dood ‘n huis in Glasogiestraat, Avianpark in Worcester gedeel.
A.O. Meryll Africa, ‘n polisiewoordvoerder, sê met Claassen se eerste hofverskyning gister (9 Oktober) het hy die hof meegedeel hy vrees vir sy lewe omdat sy mede-gevangenes hom in die aanhoudingselle gedreig het.
Hy het die hof versoek om hom oor te plaas na ‘n gevangenis in Worcester pleks van die gevangenis in Robertson.
Claassen is gister na sy eerste hofverskyning oorgeplaas na ‘n enkelsel – weg van die gevangenes wat hom vroeër gedreig het.
Op dieselfde dag omstreeks 12:20 was die hofordonnanse op pad na Claassen se sel om sy kos aan hom te bedien.
Toe die lede by die sel opdaag het hulle Claassen aangetref waar hy van die plafon gehang het. Hy het geen tekens van lewe getoon. Mediese personeel het hom op die toneel dood verklaar.




