Die Hoërskool Montagu het gewys hy is op die gebied van onderwys en opvoeding een van die beste skole in die land.Foto:

Credit: Lise Beyers

Die hoërskool Montagu het sy akademiese vernuf gewys toe hy Vrydagaand (6 Oktober), as die departement van onderwys se derde beste kwintiel 4-skool in Suid-Afrika aangewys is.

Die aanwysing is tydens die nasionale toekennings vir uitnemendheid in onderwys, wat Vrydag 6 Oktober in Kempton Park gehou het, gedoen.

Hierdie toekennings is gefokus op die gehalte van matriekuitslae en ander aanwysers, en vier uitnemendheid in leeruitkomste.

Johan Benade, HS Montagu se skoolhoof, sê dit is ’n uitsonderlike prestasie en ’n groot eer en voorreg vir die skool. Hy sê hul sukses kan onder andere toegeskryf word aan die puik matriekgroep van 2022 met hul 100%-0slaagsyfer (een van slegs 22 skole in die Wes-Kaap).

“Ons dux-leerder vir 2022 was Franco de Kock met agt onderskeidings en ’n gemiddeld van 93,42%. Wat die uitslae van 2022 verder besonders maak, is die feit dat 76% van die matrieks toelating tot tersiêre onderwys behaal het.

“Hierdie toekenning is ’n bewys van die strewe na uitnemendheid, leerders se harde werk, onderwysers wat altyd toegewyd die ekstra myl stap en ’n ouer-gemeenskap se ondersteuning.

“Ons is ’n waardegedrewe skool. Respek, eerlikheid, dissipline, gehoorsaamheid, deursettingsvermoë, harde werk, toegewydheid, naasteliefde, omgee, groot harte vir mekaar – hierdie is ’n paar van die waardes wat vir ons belangrik is.

“Hoërskool Montagu is met trots die skool in die platteland vir die platteland!”

Tydens die toekenningsgeleentheid is ook spesiale ministeriële toekennings vir provinsies met die hoogste aantal Baccalaureus-slaagsyfer in die afgelope vyf jaar (2018 – 2022) gedoen. Die Wes-Kaap is tweede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article