Die Montagu-krieketklub het Saterdag (14 Oktober) vir Brandvlei in ’n derdeligakrieketwedstryd wat oor 50 boulbeurte in Worcester gespeel is, met drie paaltjies geklop.
Brandvlei het eerste voor die penne slag gebied en 276 lopies vir die verlies van nege paaltjies aangeteken.
Vir Montagu het Jaco Joubert (agt boulbeurte; 2/44), Ryan Anderson (nege boulbeurte; 2/62) en Peter-James van der Berg (nege boulbeurte; 1/30) die beste met die bal gevaar.
In sy kolfbeurt het Montagu se kaptein, Salahuddin Davids, ’n ware kapteinsbeurt gespeel en 82 lopies gemoker.
Hy is goed deur Willem Nel (50 lopies) en Juranne Pekeur (34 lopies) ondersteun.
Brandvlei se beste bouler was M. Alberts, wat in tien boulbeurte drie paaltjies vir 42 lopies laat kantel het.
Montagu speel eerskomende Saterdag (21 Oktober) tuis teen Hexvallei op die King Edward-sportveld.
Montagu het hierdie seisoen (2023-’24) ook ’n vrouekrieketspan wat in die premierliga (T20-kompetisie) van die Boland-krieketunie meeding.
Dié span het Sondag (15 Oktober) twee wedstryde (teen Robertson en Hermanus) gespeel en uitstekend gevaar deur al twee wedstryde ure uitmekaar te wen.
Dié twee wedstryde is op die Laerskool Robertson se krieketveld gespeel.
In die eerste wedstryd, wat om 09:00 begin het, het Montagu en Robertson mekaar die stryd aangesê. Robertson, wat eerste gaan kolf het, het 43 lopies in 17.4 boulbeurte aangeteken. Sy beste kolwer was D. Fortuin, wat 11 lopies aangeteken het.
Montagu se boulers wat die meeste skade aangerig het, was Nimra Ahmed, wat in twee boulbeurte vier paaltjies vir ses lopies geneem het; Shinique Verhoog (3,4 beurte; drie paaltjies vir agt lopies) en Lorenthea Plaatjies (twee beurte; twee paaltjies vir agt lopies).
Elane Pieterse (13 lopies) en Nilezia Fortuin (10 lopies) het vir Montagu die beste met die kolf gevaar.
Robertson se beste boulers was M. Swartz (1/3 in een boulbeurt) en M. Isaacs met 1/11 in twee boulbeurte.
Montagu het die wenlopies in ses beurte en vier balle aangeteken en die wedstryd met ses paaltjies gewen.
Die tweede wedstryd teen Hermanus het om 13:00 begin.
Montagu het eerste gekolf en 182 lopies vir die verlies van slegs twee paaltjies in sy 20 beurte aangeteken.
Vir Montagu het Shinique Verhoog (54, nie uit nie) en Nilezia Fortuin (45) stewige bydraes met die kolf gelewer.
Megan Massyn (1/22) en Ruchelle Geldenhuys (1/30) was die enigste boulers van Hermanus wat sukses met die bal behaal het.
Shamiel Goodman (2/3), Nilezia Fortuin (2/7), Casey-Lee Wilskut (1/5) en Shinique Verhoog (1/7) het Hermanus se paaltjies laat spat.
Hermanus kon slegs 37 lopies in 14 boulbeurte en twee balle bymekaarskraap.
Montagu het Hermanus oortuigend met 148 lopies verslaan.
Volgens die voorsitter, Glen Fortuin, voorsien hy groot dinge vir die span, maar hulle benodig nog baie toerusting en doen ’n beroep op enigiemand, instansie of onderneming wat graag ’n bydrae wil lewer, om hom by 071 567 5784 te bel.


