MONTAGU. – Die Montagu-krieketklub het Saterdag (13 Januarie) op sy tuisveld teen die De Wet-krieketklub kragte gemeet en die besoekers net-net met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Dié derdeligakrieket-kragmeting oor 50 boulbeurte onder die vaandel van die Boland-krieketunie is op die King Edward-sportveld gespeel.
Montagu het die opskiet van die muntstuk gewen en besluit om eerste te boul.
De Wet het in sy 50 boulbeurte 206 lopies aangeteken.
Die besoekers se Anwar Pietersen was in ’n aanvallende bui en het ’n 50-tal behaal voordat hy sy paaltjie op 60 lopies verloor het.
Hilton Smith (35), Cecil Nieuwenhuis (29) en Aswaldo Pietersen (21) is die ander De Wet-kolwers wat die tuisspan se boulers gekasty het.
Juandré Plaatjies was Montagu se beste bouler. Hy het vier paaltjies in nege boulbeurte en vier balle platgetrek en slegs 32 lopies afgestaan.
Die ander Montagu-boulers wat goeie syfers behaal het, was Jurradin Pekeur (2/7) en Tristan Galant (1/26).
Die tuisspan se veldwerk was egter uiters swak en hy het talle vangkanse verbrou.
Montagu moes 207 lopies aanteken om die wedstryd te wen. Dié het hy wel met ’n groot gesukkel in die tweede laaste boulbeurt van sy toegelate 50 boulbeurte reggekry.
Anro Nel, Montagu se kaptein, het 52 lopies aangeteken.
Die ander tuisspankolwers wat die Montagu-wa deur die drif help trek het, was Jurradin Pekeur (28), Juandré Plaatjies (27), Keenan Landsman (23) en Tristan Galant (28, nie uit nie).
’n Drama in die kleine het hom afgespeel nadat Nel kort ná sy 50-tal skoongeboul is.
Nel het by die skeidsregter gekla dat daar ’n gepratery tussen die De Wet-spelers was terwyl die bouler na hom geboul het en dit het hom glo van stryk gebring.
Nadat Salahuddin Davids (skeidsregter) Nel aanvanklik nie uitgegee het nie, het hy ná etlike minute se konsultasie met sy mede-skeidsregter, Cyril Strydom, sy besluit verander en Nel wel die trekpas gegee.
De Wet se beste boulers was J. Linnerts, wat in agt boulbeurte twee paaltjies vir 35 lopies geneem het, en N. Prins, wat in sewe beurte drie paaltjies vir 47 lopies platgetrek het.
Dit was egter Galant wat teen die einde van Montagu se kolfbeurt – toe sy kolfmaats die een ná die ander in die stof gebyt het – kopgehou en die wenlopies geslaan het om sy span ’n naelbytsege met een slegs een paaltjie staande te besorg.
“Ek doen ’n beroep op die gemeenskap om die span in groot getalle te kom ondersteun.
“Ons het die krieketklub verlede jaar (2023) weer op die been gebring en die span is nog eintlik in sy kinderskoene, maar vaar regtig goed,” het Adrie Pekeur, die afrigter van die Montagu-krieketklub, gesê.
Montagu se tuisspeelrooster is soos volg:
. Saterdag, 20 Januarie teen Touwsrivier B
. Saterdag, 27 Januarie teen Touwsrivier A
. Saterdag, 3 Februarie teen De Doorns
. Saterdag, 10 Februarie teen Worcester
. Saterdag, 17 Februarie teen De Wet


