Die Montagu-krieketklub het Saterdag (28 Oktober) die De Wet-krieketklub op die De Wet-sportveld in ’n derdeliga-kragmeting aangedurf en die tuisspan met tien paaltjies behoorlik bloedneus gegee.
De Wet, wat eerste gekolf het, kon in 27.1 boulbeurte slegs 86 lopies bymekaarmaak weens die doeltreffende boulwerk van die besoekers se boulers.
Jurrane Pekeur (3/19), Arno Nel (1/15), Willem Nel (1/13), Peter-James van der Berg (1/13) en Juandré Plaatjies (1/13) het De Wet se paaltjies met reëlmaat laat spat.
De Wet se beste kolwer was sy kaptein, Cecil Niewenhuys, wat met 22 lopies ’n bietjie weerstand gebied het.
Montagu het die wenteiken in die 23ste boulbeurt ná voortreflike kolfwerk en ’n onoorwonne eerstepaaltjie-vennootskap van 90 lopies tussen Arno Nel (54, nie uit nie) en Willem Nel (22, nie uit nie) bereik.
Vrouekrieket
Die Montagu-vrouekrieketspan het Sondag (29 Oktober) sy eweknie van Robertson in ’n Premierligawedstryd van die Boland-krieketunie op die King Edward-sportveld met vyf paaltjies verslaan.
Robertson het eerste gekolf en is binne 18.1 boulbeurte almal vir 73 lopies uitgeboul.
Tydens Robertson se kolfbeurt was M. Swarts (10 lopies) en S. Siljeur (7 lopies) hul span se beste kolwers.
Vir Montagu het S. Goodwin vier paaltjies vir sewe lopies en L. Wilschut drie paaltjies vir ses lopies platgetrek. Dié twee was die tuisspan se beste boulers.
Montagu het die wenteiken, wat deur Robertson gestel is, binne 12.3 boulbeurte behaal.
Die tuisspan se beste kolwer was S. Goodwin, wat 16 lopies (nie uit nie) aangeteken het.
M. Siljeur met twee paaltjies vir 14 lopies en S. Siljeur, ook twee paaltjies vir 12 lopies, was Robertson se beste boulers.



