As jy harde werk en passie in ’n pot op die stoof kon kook, was Tia Esterhuyse (18) van Montagu die brousel wat daardie konkoksie sou lewer.
Tia wat ’n boorling van Montagu is en graag aan hokkie, krieket en tennis deelgeneem het, is Hoërskool Montagu se toppresterende matrikulant van 2020.
Ses onderskeidings later en ’n gemiddeld van 86% het verseker dat Tia die nommereenposisie in haar skool beklee. Sy sal eersdaags aanmeld by die Universiteit Stellenbosch om haar droom om ’n bedryfsingenieur te word, te gaan najaag.
“Ek is vreeslik opgewonde en moet volgende week gaan inklok. Ek is opgewonde om my koshuislewe ook aan te pak en sien uit na al die nuwe uitdagings wat op my pad gaan kom.”
Hoërskool Montagu het ook daarin geslaag om 10 kandidate met ’n A-gemiddeld te lewer.
“Ons is voorwaar baie trots op die Matriekklas van 2020. Die uitslae van 2020 vergelyk met die beste uitslae van 2004 en 2017. Soos in 2004 en 2017 lewer ons matrieks van 2020 weer 10 leerders met gemiddelde A-simbole. Verder behaal hulle ook die uitsonderlike prestasie deur ’n 100% slaagsyfer te behaal. 83,1% van die matrieks het toelating tot verdere onderwys en opleiding behaal. Dit is vir ons voorwaar ’n prestasie om op trots te wees,” het die hoof van Hoërskool Montagu, Tertius Prins aan Standard gesê.
Tia stel dat sy dankbaar is vir haar skool, haar ouers en veral haar tannie se raad en geduld om haar by te staan met haar matriekjaar.
“My raad aan ander matrieks is om nie moed op te gee nie. Dit voel dalk nou asof dinge nie wil einde kry nie en daar baie uitdagings op mens se pad is, maar werk hard en besef dat jy bou aan jou eie toekoms,” het sy bygevoeg.
Die ander leerlinge wat ook prestasies bereik het en ’n gemiddelde A-simbool behaal het, se uitslae lyk as volg:
- Enrike Groenewald (6 Onderskeidings) – 85%
- Tariq Dollie (5 Onderskeidings) – 84%
- Nina Boshoff (4 Onderskeidings) – 83%
- Suné den Engelsman (5 Onderskeidings) – 83%
- Anke le Grange (5 Onderskeidings) – 82%
- Ryan Carelse (4 Onderskeidings) – 82%
- Jamay Belelie (5 Onderskeidings) – 82%
- Pieter Visser (4 Onderskeidings) – 81%
- Wendall Conradie (5 Onderskeidings) – 80%





