“Daar was opdraandes. Daar was afdraandes. Daar is koppe gestamp. Ons is almal net mens. Maar vandag kan ek met trots getuig dat ek my deel vir my gemeenskap gedoen het en dat ek hulle alreeds met my hele siel en menswees mis.”
So vertel Moena Jacobs (38) aan Standard. Jacobs, wat vanaf geboorte in die gemeenskap van Roodewal woon, het onlangs haar gemeenskap verlaat en ná agt jaar as voorsitter van Roodewal Primêr se beheerraad die tuig neergelê.
As die naam Moena Jacobs in Roodewal genoem word, dan dink talle aan die gebied se tweede ma, hul vriendin, ’n kampvegter vir wat reg is, ’n leermeester vir die jeug en iemand wat altyd die ekstra myl sal stap om haar mense te help.
“Om in Roodewal te kon grootword was eintlik ’n goddelike ervaring. My ouma en oupa was albei in die kerkraad en ek het by hulle geleer hoe om my gemeenskap te dien. My ouma was betrokke by verskeie sportsoorte en ons huis was letterlik die klubhuis vir die plaaslike sokker en rugby. Die Here het hierdie manier om ’n mens te wys wat om met jou lewe te doen. Myne was om Roodewal se mense en kinders te dien,” vertel Jacobs aan Standard.
Jacobs, wat deesdae as ’n ontvangsdame by die Breedevallei-munisipaliteit werk, het ’n paar maande gelede na Rouxpark verhuis en moes haar gemeenskap vir eers groet.
“Daar het ander geleenthede oor my pad gekom en ek woon nou met ’n skool op my voorstoep. Dit bied ander geleenthede vir my kinders en dit is net makliker, maar die totsiens was alles behalwe.”
Jacobs was nie net die vrou wat ander sou help met kos of lewensadvies en raad nie, maar ook vir agt jaar die voorsitter van die beheerraad van die laerskool in Roodewal.
“Toe my oudste graad R toe was, het ek een aand ’n ouervergadering bygewoon. Ek het die Here gevra om my te gebruik soos en waar hy my nodig het. Hulle het gevra wie sou belangstel om deel van die beheerraad te word en dit het net reg gevoel. Ek het myself beskikbaar gestel en is toe verkies as ’n gewone lid in 2013. Die daaropvolgende jaar is ek verkies as ondervoorsitter en daarna as voorsitter. Ek is steeds so trots op alles wat ons vermag het.”
Hier het Jacobs haar mense gedien. Sy moes soms toesig hou en ander kere kos voorberei vir geldinsamelings of om ’n honger magie te voed. Nadat die skool se heining twee keer gesteel is, het sy dit haar missie gemaak om saam met die beheerraad en die hoof die veiligheid van leerders en personeel te verseker.
“Ek het gedoen wat ek kon en dit met oorgawe gedoen met die Here wat my leiding gegee het. Ek is dankbaar vir die skoolhoof, die personeel en elke liewe kind en ouer wat oor my pad gekom het. Ek het self familielede gehad wat by bendes betrokke was en hulle kon hul lewe verander. Deur dit wou ek ander help. Ek het in ’n Christelike huis grootgeword en die Here het ’n groot rol gespeel. Almal maak verkeerde keuses en ek het ook. Ek het daaruit geleer. Ek kon daai wysheid met ander deel en help om die stigma van die sosiale kwessies in Roodewal te oorkom. Vandag sien ek kinders wat in volwaardige beroepe staan en ek is trots om een van die saadjies te kon plant – ek kon, want die Here het die sade in my geplant.”
Bo en behalwe dit het Jacobs ook vir ’n paar jaar as wykskomiteelid gedien en daarna as wyksraadslid. Sy getuig van soveel hoogte- en laagtepunte en is dankbaar vir die mense wat oor haar pad gekom het.
“Ek is een van baie mense wat omgee vir my mense en vir Roodewal. Daar was uitdagings, maar ons het deur dit gewerk. Ek wil elkeen bedank wat ’n impak op my lewe gehad het. Meneer van der Merwe veral, die leerders, die onderwysers en selfs die kostannies.
“Roodewal sal altyd deel van my bly.”





