Eens op ’n tyd het dokters volgehou Patricia Booysen (nou 17) sal nooit eendag kan loop nie.
Vandag is sy in gr. 8 by ’n hoofstroomskool en ook een van die skool se prefekte. Sy was 11 toe sy gr. 1 begin het.
Dié 17-jarige meisie is met serebrale gestremdheid gebore, asook spina bifida. Sy is toe sy vier dae oud was, deur Philida Louis en haar man aangeneem.
“Die twee kinders aan wie ek die lewe geskenk het, is albei oorlede. Nadat die tweede een gesterf het, het ek besluit om ’n baba aan te neem. Ek en my man wou albei ’n dogtertjie hê,” verduidelik Louis.
Die maatskaplike werker het toe die Louis-egpaar gekontak en verduidelik van die meisietjie en haar mediese toestand.
“En ons het nie gehuiwer om haar aan te neem nie. Soms was dit moeilik. Sy het sewe operasies ondergaan. Maar dan het ek myself net herinner dat ek so graag ’n dogtertjie wou gehad het. Destyds het die dokters egter gesê sy sal nooit kan loop nie, en my antwoord aan die dokter was, u is nie die Here nie. Toe ek haar ná ’n paar jaar terugneem hospitaal toe en vir daai einste dokter wys sy stap, het hy op sy knieë voor haar geval, want hy kon dit nie glo nie.”
Toe Patricia oud genoeg was om na ’n dagsorg te gaan, was dit egter moeilik om ’n plekkie vir haar te kry.
“Sy is na die Rise & Shine-skooltjie by die Breedevallei-vereniging van en vir mense met gestremdhede (APD). Ek het altyd gesê daar is niks fout met my kind se verstand nie. Ek het by soveel skole se deure aangeklop, maar is telkemale weggewys.”
Toe kruis haar paadjie met die hoof van RK Primêre Skool, Hubert Titus, en dinge het amper onmiddellik onherroeplik verander.
“Een Maandagoggend het ek met die maatskaplike werker, meneer Cupido, gaan praat en vir hom gesê ek wil my kind in ’n gewone skool sit. Ná vele skole het ons by RK gedraai en die hoof het ons tegemoet gekom.”
Titus sê hy kon op daardie tydstip ’n noodkreet in Louis se oë sien.
“Ek het een middag in my kantoor gesit toe meneer Cupido en Philida hier aankom. Hy het vir my die storie geskets en van haar mediese toestand vertel. Die Gees het my daai dag gelei om hierdie familie te help. Ek het self ’n gestremde dogter en het ondervinding van waardeur dié mamma gegaan het. Sonder om verder oor haar mediese toestand te hoor het ek gesê ja, bring die kind.”
Die hoof is toe na Rise & Shine.
“Toe ek Patricia die eerste keer ontmoet, was dit net bevestiging dat ek die regte besluit geneem het. Ek kon onmiddellik agterkom dat daar niks fout was met haar verstand nie. Hoekom sal ons haar dan nie verder wil help nie? Hoe om verder haar mediese toestand tegemoet te kom, kon ons verder uitsorteer en in die proses kon ons haar ook verder leer hoe om dit vir haarself te doen.”
Patricia was teen daai tyd al sewe jaar oud en honger vir onderrig.
“Sy het so goed gevaar. In die middel van gr. 1 het ons besef sy is al voor vir haar klasmaatjies, want sy kon al op haar eie lees. Ek het toe by die departement aansoek gedoen vir versnelde vordering na gr. 2 en hulle het dit goedgekeur.
Hulle het ons nog al die pad bygestaan met alles wat Patricia betref,” verduidelik Titus.
Wat die hoof nog meer gedryf het om aansoek te doen vir die versnelde vordering, was ’n prentjie wat hy een oggend voor skool aanskou het.
“Ek het een dag by die skool aangekom en let toe op daar staan ’n klomp kindertjies op ’n hoop. Ek het nader gestap om te kyk wat aangaan en gesien dis Patricia wat hardop uit ’n boek vir die kinders lees. Ek kon dit nie glo nie, want sy het pas met gr. 1 begin.”
Hy noem ook dat Patricia reg deur haar skoolloopbaan altyd onder die top-presteerders van haar klas en skool is.
Patricia is baie trots op haarself vir alles wat sy tot dusver bereik het.
“Toe ek nog nie by ’n gewone skool was nie, het ek baie gefrustreerd gevoel. Ek kon al lees, so hoekom kon ek nie toe al na ’n gewone skool toe gaan nie?”
Volgens haar het sy haarself van vyfjarige ouderdom self leer lees.
“Ek sal enigiets lees – Afrikaans of Engels. Ek hou van lees.”
Sy was baie bly toe Titus haar destyds gaan besoek het, maar ook senuweeagtig om na die hoofstroomskool toe te gaan.
“Ek was baie nervous vir die ander kinders. As hulle my oor my mediese probleme uitgevra het, het ek sommer begin huil.
“Maar later het ek toe maatjies in gr. 1 gemaak.
“Ek is trots op myself en baie dankbaar vir my ma wat nooit opgegee het om my by ’n skool in te kry nie. Skool en my maatjies maak my baie gelukkig.”
Sy wil graag eendag ’n prokureur wees en weet presies na watter hoërskool sy binnekort wil gaan.
“Ek wil graag na Worcester Gimnasium of Montana toe gaan.”
Volgens Titus het hulle al die wiel aan die rol gekry ten opsigte van hoërskole.
“My droom is dat ’n ander skool haar potensiaal raaksien. Sy verdien die beste wanneer dit by opvoeding kom en ek hoop een van haar droom-skole sal dit raaksien. As ons haar kan ondersteun, kan ’n ander skool dit ook doen. Sy gaan êrens kom. Sy is een van ons suksesverhale.”
Haar destydse juffrou by die APD, Susan Baird, het beaam dat sy tot baie in staat is.
“Haar mamma het ’n goeie grondslag gelê en ons het daarop voortgebou. Selfs die terapeute het gesê sy het baie potensiaal om ver in die lewe te kom.”




