Die span wat die modevertoning gereël het, is (van links) Avril Faroa, Maria Du Plessis, Nathan van Rooyen en Zayilie Africa-Sauls.


’n Modevertoning die afgelope naweek het talle vroue die kans gegee om uit te kom en hulle te geniet.

Die vertoning, wat deur Zayilie Africa-Sauls gereël is, is die afgelope Saterdag in Johnsonspark gehou, en sowat 80 mense het die skouspel geniet.

Volgens Africa-Sauls het sy besluit om die vertoning te reël nadat Covid-19 die afgelope paar jaar mense – veral vroue – genoop het om tuis te bly.

Sy sê haar ma het destyds ook modevertonings in Worcester gehou en dit het haar gemotiveer om ook een te reël.

Africa-Sauls, ’n maatskaplike werker van beroep, sê sy hou daarvan om mense te help en bymekaar te bring. Sy, die ontwerper Maria Du Plessis en Nathan van Rooyen, wat spyseniering en dekor doen, het byeengekom en die vertoning gereël om blootstelling te gee aan Du Plessis se uitrustings en Van Rooyen se onderneming, en ook om hulle ’n hupstoot te gee nadat Covid-19 ’n groot uitwerking op hul ondernemings gehad het,

“Ek het Maria en Nathan by my tante se huis ontmoet en terwyl ons gesels het, het die idee by my opgekom om ’n vertoning te reël om mense bymekaar te bring.”

Sy verduidelik dit was eers net ’n idee, maar dit het met baie harde werk uiteindelik ’n werklikheid geword.

Sy voeg by die vertoning was ’n groot sukses en sy wil deur die loop van die jaar graag nog sulke vertonings aanbied.

By die modeskou het modelle van alle ouderdomme van Du Plessis se uitrustings gedra. Die bekende Pasella-aanbieder Rumarcques “Oxijin” Gelderbloem was die seremoniemeester.

“Ons kon met hierdie modevertoning aan die mense van Worcester wys daar steek baie in ons mense en ons sal hopelik meer sulke vertonings in die toekoms kan aanbied,” sê Africa-Sauls.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article