Verlede week is geskiedenis gemaak met die opening van die nuwe Barlinka- mediese sentrum by Durbanstraat 2, Paglande.
Die Barlinka- mediese sentrum bestaan uit twee afsonderlike entiteite onder een dak.
Die sentrum bestaan uit Nurture Health se rehabilitasiesentrum en die Cancercare-afdeling.
Cancercare is ’n voorste verskaffer van geïntegreerde onkologiebehandeling met nege behandelingsentra in die Wes- en Oos-Kaap, en die maatskappy word wyd beskou as ’n baanbreker op die gebied van kankerbehandeling in Suid-Afrika.
Die groep behandel meer as 2 500 nuwe pasiënte elke jaar in Suid-Afrika en het meer as 90 000 pasiënt-kontakte per jaar.
Die maatskappy bestaan uit 160 personeellede en 25 spesialis-onkoloë.
Vandag is Cancercare die grootste private onkologiepraktyk in die land wat die hele spektrum bedien – van kankerbehandeling tot -berading en ondersteuning vir pasiënte en hul gesinne.
Worcester Cancercare het tans 10 chemostasies waar pasiënte hul chemoterapie-behandeling kan ontvang.
Cancercare beklemtoon dat die vroeë diagnosering en behandeling van kanker van kardinale belang vir die suksesvolle behandeling van hierdie siekte is.
Nurture Health se sub-akute-rehabilitasiekliniek fokus hoofsaaklik op die herstelpad van pasiënte wat in motor- of ander ongelukke was of wat die simptome van ’n aftakelende siekte het, en poog om sulke pasiënte weer sodanig te laat herstel dat hulle onafhanklik en op hul eie sal kan funksioneer.
Hulle fokus veral ook op vroeë behandeling, aangesien pasiënte wat vroeë behandeling ontvang, ’n beter kans op herstel het.
Hierdie rehabilitasiekliniek bied die volgende dienste – post-akute rehabilitasie, palliatiewe sorg, fisieke trauma-rehabilitasie, mediesesorg-programme, neurologiese behandeling en ander algemene dienste.
Nurture Health plaas ook ’n groot fokus op die insluiting van die pasiënt se gesin op die pasiënt se herstelreis en hou ook gereeld vorderingsvergaderings met pasiënte se gesins- en familielede en verduidelik vir hulle watter sorg die pasiënt op sy/haar herstelpad sal benodig.
Die sentrum se moderne voorkoms en slim argitektoniese ontwerp en uitleg is veral opvallend, aangesien daar nêrens ’n ruimte is wat verlore gaan nie en alle ruimtes word optimaal benut.
“Dit was vir Breedevallei-munisipaliteit ’n groot eer en voorreg om reg deur die beplanning en ontwikkeling van die Barlinka- mediese sentrum met die ontwikkelaar behulpsaam te kon wees,” het dr. Julian Kritzinger, die burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur by die Breederivier-munisipaliteit, tydens sy openingstoespraak gesê.
“Die Breedevallei-munisipaliteit stuur alle heil en seënwense aan al die pasiënte wat van vandag af hul behandeling by die Barlinka- mediese sentrum sal ontvang en ons wens julle ’n spoedige beterskap toe.”





