Die Witzenberg is die enigste gebied in die Kaapse Wynland waar ’n dokter aangestel is om op mobiele dienste te fokus.

Dr. Nadia le Roux gee kliniese leiding aan personeel wat met die departement van gesondheid se bussies uitgaan. Sy beweeg op rotasie saam met die personeel op die verskillende bussies se roetes en besoek ook klinieke wat op plase gevestig is.

In gebiede soos die Witzenberg, waar mense dikwels baie ver van groter gemeenskappe en dienste woon, is vervoer nie altyd beskikbaar nie, óf die kostes is eenvoudig so hoog dat mense uiteindelik kies om siek of in pyn te bly eerder as om hulp te kry. Die pasiënt se toestand verhoed hulle ook soms om ver na ’n kliniek te reis.

“Die groot verskil is mense voel veiliger wanneer jy hulle in hul eie ruimte sien. Hulle voel gemakliker. Hulle deel makliker inligting, en daarom is dit makliker om hulle die beste ondersteuning te kan gee,” verduidelik Le Roux.

Gesondheidswerkers op mobiele bussies maak langer, gesonder lewens moontlik vir die duisende Witzenbergers wat hulle bedien, en, bykans ‘n jaar sedert ’n dokter aangestel is om die diens te versterk, glimlag pasiënte breed.

Prens Muller (62) werk by Mount Cedar. Hy is een van sowat 6 000 mense in die Witzenberg met kroniese toestande wat op mobiele klinieke staatmaak. Muller vertrek voor sonop van sy huis by Op die Berg en keer die aand eers terug.

As deel van die bestuur van sy kroniese toestand, benodig hy gereelde waarnemings deur gesondheidswerkers, asook medikasie. Die pad tussen Op die Berg en Mount Cedar noodsaak dat ’n mens stadiger en versigtiger moet ry, wat ’n besoek aan die kliniek op ’n werksdag bykans onmoontlik maak. “Dit beteken regtig baie vir my dat julle uitkom,” sê hy waar sr. Nontombi Ciko en dr. Le Roux by Mount Cedar na hom omsien.

“Ek het nooit geglo ek is iemand wat kliniek toe moet loop nie, maar toe ek 60 word, sê iemand vir my dis tyd dat ek gaan,” vertel hy. Dokters het toe vasgestel hy benodig kroniese medisyne. Die koms van die mobiele kliniek na waar hy werk, gee hom die vrymoedigheid om op die dag ook te vra oor die onderkant van sy voete wat brand. “Ek kan vrae vra oor dinge waaroor ek bekommerd is en so voorkom dat ek ’n siekte opdoen.”

Mobiele klinieke is ’n verlengstuk van dienste wat by die Wes-Kaapse departement van gesondheid se klinieke beskikbaar is. Die dienste is lank reeds goed gevestig in die Witzenberg, maar die Witzenberg is die enigste gebied in die Kaapse Wynland waar ’n dokter aangestel is om op mobiele dienste te fokus.

“Dít is vir my baie bevredigend. Hier by Mount Cedar het net enkele mense vandag ons ondersteuning nodig gehad. Op ander plase het ons tot 91 pasiënte met kroniese toestande gehelp. Vir hulle maak hierdie diens die wêreld se verskil,” sê Le Roux.

Sr. Ciko sê die feit dat hulle ’n dokter het wat op ondersteuning aan mobiele dienste gefokus is, beteken sy kan vinniger hulp kry as sy ’n vraag oor die behandeling van ‘n pasiënt het. Voorskrifte word ook vinniger hernu, en die dokter leer die pasiënte ken – alles tot voordeel van die pasiënt.

Ciko se roete strek oor 1 800 km en sluit ongeveer 24 plase in. Mobiele klinieke word op nog vyf roetes in die Witzenberg ingespan. In plekke wat minder afgeleë is en waar ’n groter behoefte aan voorkomende dienste soos immunisering bestaan, reël gesondheidswerkers met behulp van werkgewers dat die bussie by een plaas stop en mense van ander plase daarheen kom.

Gesondheidswerkers lê sowat 9 000 km per maand af om mobiele dienste na mense te bring. Tussen April en Junie het meer as 10 000 Witzenbergers van die mobiele klinieke se dienste gebruik gemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article