Planne om meer kwesbare mense toegang te gee tot gesondheidsdienste is bewaarheid deur ’n mobiele kliniek wat ingewy is in Bella Vista, Ceres. Foto:


Inwoners van Witzenberg wat ver van hul naaste kliniek is, kan daarna uitsien dat gesondheids­dienste nou na hulle gebring gaan word.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Witzenberg het onlangs ’n splinternuwe mobiele kliniek gekry, geskenk deur die Perdekraal-Oos-windplaas.

Die mobiele kliniek (in die vorm van ’n waentjie) is by ’n Vrouemaand-geleentheid in Bella Vista by Ceres in ontvangs geneem. Betrokkenes is dit eens dat dit ’n goeie voorbeeld is van wat vennootskappe kan vermag.

Hulle moedig inwoners aan om verantwoor­delikheid vir hul gesondheid te neem en gebruik te maak van dienste soos hierdie.

“Ons benadering is gemeenskapsge­sen­treerde primêre sorg. Dit beteken ’n diens wat ons in samewerking met die gemeenskap bied; ’n diens gegrond op mense se behoeftes,” sê Lulamile Wawini, bestuurder van primêre gesondheidsorg in die Witzenberg. “Dankie aan Perdekraal vir die voorbeeld wat hulle stel. Ons hoop nog sakeondernemings volg hul voorbeeld. Die behoefte aan dienslewering is groot. Ons maak hiermee ’n klein begin wat kan slaag as die gemeenskap ons help.”

Die departement het Perdekraal bedank vir die finansiering van twee verpleegkundiges wat dienste sal lewer in die mobiele eenheid, en vir die opleiding van gemeenskapsgesondheids­werkers.

Algemene dienste wat beskikbaar sal wees deur middel van die mobiele kliniek, is onder meer:• Covid-19-inentings;• Covid-19-sifting;• MIV/TB-sifting en -toetsing;• die griepentstof;• Die afhaal van kroniese medikasie by die mobiele kliniek (spesifiek ’n diens aan ouer mense).

Die mobiele kliniek se dienste sal ook op vroue en jongmense se gesondheid fokus deur:• Inligting oor en verskaffing van voorbehoedmiddels;• sifting en toets vir servikale kanker;• ondersteuning aan mense met verslawing, of wat blootgestel word aan geslagsgebasseerde geweld (GBV).

By die oorhandigingsgeleentheid het Beauty Theto, projekbeampte van Perdekraal, gesê die projek is van stapel gestuur omdat hulle die departement se visie deel.

“Perdekraal kan mense help deur vennootskappe soos hierdie. Eerder as om mense te help om byvoorbeeld ’n besigheid te begin, help ons hulle wat reeds die verantwoordelikheid geneem het om dit te doen, om verder te ont­wik­kel. Ons vra dat julle verant­woorde­likheid vir en eienaarskap van jul gesondheid neem en die diens ge­bruik. As jy bekommerd is oor enige aspek van jou gesondheid, kry hulp,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article