Meer as 1 000 mense in die Breedevallei is sedert 1 April vanjaar positief vir MIV/Vigs getoets.
So sê Terrence O’rie van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement in die Kaapse Wynland-distrik.
O’rie, ’n kliniese koördineerder vir MIV/Vigs, tuberkulose en geïntegreerde kindersiektes, was een van die sprekers wat leerders van verskeie skole in die Breedevallei Vrydag (1 Desember) op Wêreld-vigsdag tydens ’n inligtingsessie by die Kaapse Wynland se onderwysdistrikskantoor in Worcester toegespreek het.
Vanjaar se tema is “Let Communities Lead”.
Volgens O’rie is altesaam 1 059 mense in die Breedevallei sedert 1 April vanjaar positief getoets vir MIV/Vigs. Hy sê tussen 50% en 60% van diegene wat positief getoets is, het reeds met behandeling begin.
O’rie het uitgebrei deur te sê 8% van die 1 059 mense wat positief getoets is, is in die 10- tot 24-jaar-ouderdomsgroep, wat ook die teikengroep van die sessie was.
Volgens hom is daar egter ’n hoër voorkoms van die virus in die 24- tot 29-jaar-ouderdomsgroep.
O’rie sê dit is belangrik dat mense moet weet wat hul MIV-status is.
Hy beklemtoon die feit dat die virus vermeerder indien mense wat die virus onder lede het, lank wag om hulle te laat toets om sodoende met behandeling te begin.
Volgens hom is dit belangrik om aan mense te verduidelik hulle kan nie van die virus genees word nie.
“Die oomblik wanneer iemand wat die virus opgedoen het, die punt bereik dat hy of sy Vigs het, is die situasie onomkeerbaar.”
Hy moedig mense aan wat positief vir die virus getoets is en nog blakend gesond is, om so gou as moontlik te gaan vir behandeling om die verspreiding van die virus te verminder.
“Hoewel Vigs nie genees kan word nie, kan pasiënte ondersteun word om so gesond as moontlik te bly.”
Minnie Petersen, ’n raadslid van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het in haar toespraak gesê kinders se gedrag is tans ’n bron van kommer.
Sy het ’n beroep op die jongspan gedoen om verantwoordelik te wees omdat “ ’n verantwoordelike persoon ’n veilige persoon is”.
Volgens Petersen moet gemeenskappe saamstaan in die stryd teen MIV/Vigs.
Sy sê gemeenskappe moet mekaar bemagtig met inligting en natuurlik ook verantwoordelik wees.
Volgens haar is daar ’n hoë voorkoms van tienerswangerskappe in die Kaapse Wynland en die virus kom saam met tienerswangerskappe.
Petersen sê wat ook kommerwekkend is, is dat diegene wat besmet is met die virus en siek is, weier om ’n ambulans te kontak om hulle hospitaal toe te neem uit vrees dat die gemeenskap sal uitvind van hul MIV-status.
Sy het die jongspan aangemoedig om met iemand wat hulle vertrou te praat indien hulle weet van iemand wat siek is en mediese behandeling weier.



