Die beweerde mesmoord waarin een mens dood is en ’n ander beseer is, spruit na bewering uit ’n rooftog wat skeefgeloop het.
Mense na aan die oorledene meen egter dit is alles bog.
Die twee slagoffers het op 22 Februarie omstreeks 18:30 in Durbanstraat gestap waar hulle, volgens die Worcester-polisie, die verdagte probeer beroof het.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het die man wat geteiken is glo ’n mes uitgehaal en die 16-jarige Conrick Pieterson een keer in die bors gesteek.
“Pieterson is gesteek en hy is op die toneel dood. Die man wat glo amper beroof is, het ook Pieterson se vriend na bewering in die rug aan die regterkant gesteek.
“Twee omstanders het die verdagte probeer keer en ook daarin geslaag om die mes uit sy hande te neem. Die verdagte het toe weggestap en ons het hom op die hoek van Durban- en Parkerstraat gekry,” voeg Jacobs by.
Pieterson is op die toneel dood verklaar en die ander slagoffer, ’n goeie vriend van Pieterson, is na die Worcester-hospitaal geneem.
Die verdagte is op ’n klag van moord en poging tot moord in hegtenis geneem en het op 24 Februarie in die Worcester-landdroshof verskyn. Hy moet nog pleit en die saak is tot 3 Maart uitgestel. Die verdagte bly in aanhouding.
Talle boodskappe van medelye het ingestroom nadat die nuus op sosiale media versprei is en talle inwoners eer aan Pieterson betoon het.
’n Vriend van die oorledene, E-Jay Jacobs, het aan Standard vertel sy vriend wou nie die man probeer beroof nie.
“Hulle het altyd met die oom gespeel. Hulle het hom geken. Dit is leuens dat hulle hom wou beroof. Dis nie die waarheid nie!”
’n Familielid van die oorledene en iemand wat ook met die ander slagoffer bevriend is, het op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat en gesê Pieterson is nie ’n misdadiger nie.
“Dit is nie so nie. Hy is ’n goeie vriend vir baie mense en hy het sulke mooi maniere. Dit moet ’n misverstand wees. Iets het skeefgeloop en die hof gaan regtig nou sy deel moet doen,” het die familielid bygevoeg.


