Die Bolandse skeidsregtersvereniging beoog om verbale sowel as fisieke mishandeling van skeidsregters deur sommige rugbygeesdriftiges hok te slaan deur te verseker dat fikse, bekwame en bevoegde skeidsregters op wedstryddae die fluitjie blaas.
Só sê Sebastian Abrahams, die nuutverkose voorsitter van die Boland-skeidsregtersvereniging. Abrahams en ander ampsdraers is vroeër vandeesmaand (Saterdag 8 Februarie) tot die bestuur van die skeidsregtersvereniging verkies.
“Ons wil situasies waar skeidsregters by rugbyvelde verbaal of fisiek mishandel word, voorkom. Ons wil dit doen deur ’n meer positiewe beeld van skeidsregters te skep. Ons strewe daarna is dus om ’n fikse skeidsregter op die veld te stuur – een wat sy of haar reëls ken en dit op bestendige wyse kan toepas. Op dié manier hoop ons om hierdie euwel van skeidsregtersmishandeling die nek om te draai,” sê Abrahams.
Die skeidsregtervereniging is daar om na die belange van skeidsregters om te sien en toe te sien dat alles ten opsigte van skeidsregtersaangeleenthede en wat daarmee gepaardgaan, vlot verloop. Die skeidsregtersvereniging van die Boland-rugbyunie dien die unie en al die klubs wat by die unie geaffilieer is.
Daarbenewens moet die vereniging toesien dat skeidsregters op wedstryddae beskikbaar is, sê Abrahams.
Abrahams het ook verwarring oor sy posisie as voorsitter van die skeidsregtersvereniging en dié van Linston Manuels, bestuurder van skeidsregtersake, opgeklaar.
“Daar bestaan ’n wanpersepsie dat ek mnr. Linston Maneuls se werk oorgeneem het. Ek wil dit onomwonde stel – dit is hoegenaamd nie die geval nie.
“Maneuls is ’n besoldigde werknemer van die Boland-rugbyunie en behartig die portefeulje vir skeidsregters van die Boland-rugbyunie.
“Hy is slegs ’n ex-officio-lid op die skeidsregtersvereniging en is nie stemgeregtig nie, maar mag wel insette lewer. Ons werk dus saam met betrekking tot aspekte rakende skeidsregters, maar meng nie in met mekaar se verantwoordelikhede nie.
“Daar is dus samewerking tussen die skeidsregters se vereniging en die skeidsregters se bestuurder, wat dan die skakel is tussen die unie en ons, wat ook moet toesien dat die ontwikkeling van skeidsregters plaasvind, sodat hulle ook op hoër vlakke wedstryde kan hanteer.
“Daardie gedeelte doen ons saam. Ek het dus nie mnr. Manuels se werk oorgeneem nie en hy is nie weg uit die kantoor nie,” sê hy.





