Esselenpark-stadion in Worcester spog dalk gou met ’n splinternuwe voorkoms.
Chad Malgas, ’n woordvoerder van Breedevallei-munisipaliteit (BVM), sê die munisipaliteit het voorlopig R3 miljoen begroot uit eie finansiering van die 2023-’24 mediumtermyn- inkomste-en-uitgaweraamwerk – spesifiek die 2023-’24 boekjaar – om ’n omtrekheining rondom dié stadion op te rig.
Hy sê daar word voorts ook beoog om die omheining van die Boland Park-stadion in Worcester in die2024-’25 boekjaar op te knap.
Volgens Malgas is voorlopig ook begroot vir die moontlike opknapping van die Rawsonville- en Fanie Otto- sportterrein (De Wet).
Met betrekking tot die moontlike opknappingswerk by die Rawsonville-sportterrein, sê Malgas, het die munisipaliteit ’n munisipale infrastruktuurtoelae-finansieringsaansoek ingedien om dié projek te finansier.
Hy sê die verwagte opgradering sluit in lasersny, die gelykmaak en besproeiing van die speel-oppervlak en bogrond, die aanbring van oprol-gras, ’n toeskouer-heining, ’n kombinasie van rugby- en sokkerpale, ’n staalpawiljoen wat 300 toeskouers kan akkommodeer en ablusiegeriewe.
Hy sê met betrekking tot die Fanie Otto-sportterrein het die BVM ook ’n munisipale infrastruktuurtoelae-finansieringsaansoek ingedien om ook dié projek te finansier.
Volgens Malgas sluit die beplande opgradering in die toeskouerheining, buitelug-gimnasium met kunsmatige gras, ’n meerdoelige baan en speelgebied vir kinders.
Hy sê die munisipale infrastruktuur-toelaefinansiering beteken ’n toekenning van R6 miljoen is vir BVM goedgekeur vir die voorgenoemde doeleindes.
Volgens Malgas sal BVM voortgaan om tenders aan te vra wat verband hou met die implementering van die beoogde projekte.
Hy sê voorts dit is belangrik om daarop te let dat projek-implementering slegs sal geskied in ooreenstemming met die beskikbare projekfinansiering wat in die finale begroting vir 2023-’24 vervat moet word.
Granville Fortuin, afrigter van Worcester Victorians Krieketklub, sê die oprig van ’n nuwe omheining – verkieslik ’n hoë muur rondom die Esselenpark-sportterrein – sal baie vir hulle beteken.
Fortuin sê die huidige sinkplaat-omheining dien geen doel nie.
Hy sê in die winter waai die plate af en dele daarvan word deur booswigte verwyder. Volgens hom word die sportveld dan as deurloop-pad tussen Esselenpark en Roodewal gebruik.
Volgens hom is dit ook moeilik vir die opsigter om die kolfblad in stand te hou omdat die gemeenskap oor dié blad stap.
Fortuin sê baiekeer moet krieketwedstryde gestop word wanneer ongewenste mense – van wie baie onder die invloed van dwelms is – tydens ’n wedstryd oor die veld stap.
Hy sê kleedkamers en toilette word ook erg gevandaliseer.
“Ons kan nie van die opsigter verwag om na alles om te sien nie.”
Fortuin sê wanneer somerreën uitsak, moet krieketwedstryde gekanselleer word omdat boosdoeners die seile wat gebruik word om die kolfblaaie te bedek, oornag wegdra.
“As die hoë mure opgerig word, kan ons ons sport meer geniet.”
Maxwell Kekana, voorsitter van Rawsonville United Rugbyklub, sê die plaaslike gemeenskap verwelkom die moontlike opkappingswerk aan die Rawsonville-sportterrein.
Kekana sê die sportterrein se omheining word gereeld gevandaliseer deurdat ongewenste karakters die betonblaaie afbreek en verwyder. Volgens hom hou dit ’n veiligheidsrisiko in vir toeskouers en spelers.
Hy sê die staaldraad-omheining wat ten doel het om spelers te beveilig, word ook gereeld gevandaliseer.
Volgens hom breek die gemeenskap die omheinings af om die sportterrein as ’n deurloop-pad dorp toe te gebruik.
Hy sê die heining waaragter toeskouers tydens wedstryde moet staan moet ook gereeld herstel word. Volgens Kekana het vandale in ’n stadium selfs die staalhek by die ingang na die sportterrein afgebreek.
Hy meen die speel-oppervlak van die sportterrein – weens die ongelykheid daarvan – is nie geskik vir sportdoeleindes nie.
Hy het verwys na ’n speler van die Klipdrift-rugbyklub, Branwill Steven Syfers, wat verlede maand as gevolg van die ongelyke speeloppervlak sy enkel in ’n wedstryd gebreek het.
Volgens Kekana is dié geval maar een van ’n rits beserings wat as gevolg van die ongelyke speeloppervlak opgedoen is.
Kekana sê die moontlike aanbring van die staalpaviljoen sal dit soveel meer gemaklik maak, want dan hoef toeskouers tydens wedstryde nie op klippe te sit nie.
Aubrey Roelf, voorsitter van die Greenleaf-rugbyklub in De Wet buite Worcester, sê die moontlike opgradering word verwelkom.
Hy sê die omheining by die sport-terrein is in so ’n toestand dat toeskouers maklik toegang tot die veld kan verkry om by spelers uit te kom.
Voorts sê hy is die ablusiegeriewe in die klubhuis onbruikbaar.
Roelf sê tydens die afgelope Paastoernooi moes baie toeskouers na bosse hardloop om hulself te verlig. Hy meen dit is kommerwekkend.
Volgens hom klink die moontlike aanbring van ’n buitelug-gimnasium en speelgebied vir kinders by die sportterrein baie belowend.





