Claudio Matolla

Credit: SYSTEM

“Ek het net die ondersteuning van die gemeenskap nodig, dis al. My begeerte is dat hulle my kan help met my droom,” het die rugbyspeler Claudio Matolla gesê.

Matolla, wat afkomstig is van Roodewal, het sy sportloopbaan by Worcester NGK Oefenskool in Worcester begin, en dit is ook hier waar die atletiekkersie aan die brand gesteek is.

Hy het sy skoolloopbaan voortgesit by Hoërskool Esselenpark voordat hy in graad 10 die skuif gemaak het na Worcester Gimnasium vir sy atletiek.

Matolla was bekend vir sy atletiese vermoëns totdat hy voltyds aangesluit het by die 7’s rugbyspan genaamd Worcester Warriors. Hierna het hy eers deel geword van Primrose RVK-rugbyklub, voordat hy by die Young Hamiltons RFC-rugbyklub aangesluit het.

Dié kranige sportman is tans ’n gevestigde eerstespanspeler, maar dis nie waar hy sy droom sien eindig nie.

“Op die ou einde droom ons almal van die Groen-en-Goud, dis vir seker my droom ook.”

Dié boorling van Roodewal is uitgenooi na ’n 10’s rugbytoernooi wat in November vanjaar in Maleisië gaan plaasvind.

Sosiale rugbyspanne van oor die wêreld heen gaan hieraan deelneem. Dit sluit spanne in van Fidji en Nieu-Seeland.

“Die toernooi word op internasionale vlak gespeel en dit is ’n platform om my talent, wat tans nie aan die beweeg kom nie, oorsee te showcase,” verduidelik Matolla.

Matolla benodig R25 000 om hierdie geleentheid te verwerklik, en het intussen ’n pleidooi aan die gemeen­skap gerig om hom te help.

. Vir donasies kontak Matolla by 081 411 4091.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article