Om ná ’n lang dag met ’n glasie wyn uit die Kaapse Wynland te ontspan, is een van die dinge wat dr. Elna von Schlicht die meeste geniet.
Die burgemeester van die Kaapse Wynland-distrik se dryfkrag agter haar sukses stam uit die feit dat sy doodeenvoudig mense wil help.
“Ek het op ’n plaas in Wellington grootgeword. Ek het wonderlike kinderjare gehad. Ons was almal maatjies op die plaas. My ouers was destyds by die politiek betrokke en vir die regime destyds sou ’n mens hulle as rebels kon beskryf. Hulle het geglo almal moet gelyke regte hê.”
Ná skool het sy in ’n maatskaplike rigting studeer en ook haar doktorsgraad daarin verwerf. Sy het maatskaplike werk as vak deur Unisa aangebied. Dis tydens haar tyd as dosent dat sy besef het bronne is nie juis toeganklik vir almal nie.
“Om bronne vir ander te ontsluit, moet ’n mens by beleidsformulerings betrokke wees. En om daar betrokke te wees, moet jy in die politiek betrokke wees,” verduidelik Von Schlicht.
So het haar politieke reis begin, en so het sy die broodnodige verandering teweeggebring. Sy meen teen daai tyd het sy al ’n vol lewe gelei, die nodige ervaring opgedoen en baie bronne tot haar beskikking gehad.
Sy bieg egter ook dat dit ’n groot kopskuif was toe sy die politieke wêreld betree het.
“Gelukkig is ek ’n continuous learner en ek het myself bekwaam om my rol vol te staan. My agtergrond in maatskaplike werk het my ondersteuning in hierdie rol gebied.”
Sy meen in die lewe is daar ’n plek vir mans en vroue in die kollig.
“Mans en vroue dink anders as mekaar, maar daar is plek vir albei denkwyses. Op die ou einde gaan dit ook oor hoe jy ander mense behandel.”
Agter haar gedrewenheid om mense se lewe makliker te maak, is sy maar net ’n vrou met eenvoudige smaak.
“Ek is nie regtig ’n koffiewinkel-mens nie. Gee eerder vir my boeke; ek lees graag. Ek is baie lief vir die natuur en maak graag tuin,” vertel sy.
“My gesin is my nommereen-ondersteuningstelsel. My lewe draai om my man en my twee kinders. Dit maak nie saak hoe my dag by die werk verloop het nie; hulle is altyd daar aan die einde van die dag, asook ’n glasie wyn uit die distrik.”





