Die dood van twee jong vroue kort ná mekaar in Worcester het opnuut weer lig op die outo-immuunsiekte lupus gewerp.
Standard het met Vidonia Hartman, wat sedert 2008 aan lupus ly, oor haar stryd met die siekte gesels.
Hartman sê sy vergeet soms sy het lupus, veral op goeie dae wanneer sy opstaan en woema het om die wêreld aan te pak. Sy sê haar dokter noem die siekte die great pretender.
“Een dag sien jy kans om die wêreld aan te pak; die volgende dag kan jy nie uit die bed uit nie. Ek was van 2009 tot 2019 in remissie, maar daarna het dit weer begin aktief raak,” sê Hartman.
Sy beskryf die afgelope paar jaar as “baie swaar”, omdat sy nuwe simptome ontwikkel het waarvan sy nie geweet het nie. Sy sê sy was in 2020 ses maande van die werk af as gevolg van haar siekte en Covid-19.
Hartman sê sy het covid in April vir die derde keer oorleef.
“Ek bou nie antibodies op nie en loop dus ’n groot gevaar om elke keer covid op te doen,” voeg sy by.
Hartman verduidelik wanneer lupus by jou gediagnoseer word, moet jy sekere leefstylveranderings maak.
“Ek weet van ’n vrou wat haar werk moes los as gevolg van lupus omdat sy nie op haar voete kon staan nie,” sê sy.
Sy sê nie almal se paadjie met lupus is dieselfde nie. Volgens haar verskil die simptome van elkeen en is dit die rede dat mense self na ’n dokter moet gaan om gediagnoseer te word.
Hartman sê sy het ’n ekseem-uitslag gehad en het dokter toe gegaan, maar niemand het destyds geweet wat dit is nie.
“Toe die dokter vir my sê ek het lupus, het ek nie geweet wat dit is nie. Ek het my ma gebel en sy het my vertel wat dit is. Toe ek oor die siekte gaan lees, was my eerste gedagte: ‘Ek gaan dood’,” sê Hartman.
Sy sê die dood van nog ’n lupus-lyer verlede week het haar geruk.
“Ek het haar redelik goed geken omdat sy my gekontak het toe sy uitgevind het sy het lupus. So, dit was vir my ’n skok toe ek van haar dood hoor. Ek en sy het gereeld met mekaar gesels. Haar dood het my geraak. Ek het in trane uitgebars toe ek hoor,” sê Hartman.
“As jy lupus het, kan dit jou geestesgesondheid aantas. Jy kan in depressie verval omdat jy goeie gesondheid verloor en in konstante pyn leef. Praat oor jou siektetoestand. Jy gaan saam met dit moet leef en baie veranderings moet maak,” sê Hartman.





