Die Vryheidsmanifes was veronderstel om die lewensomstandighede van gewone burgers – en nie dié van die leiers nie – te verander.
Die Vryheidsmanifes is op 26 Junie 1955 in Kliptown, Soweto, aanvaar.
Die minister van polisie, Bheki Cele, is ’n lafaard en ’n boelie. Hy en sy polisiebeamptes het swemmers en branderplankryers in Desember 2020 op Durban se strande in hegtenis geneem.
Sewe maande later, in Julie 2021, (ironies tydens Mandela-maand) is Durban en Johannesburg erg geplunder en verwoes terwyl Cele en sy makkers in hul afwesigheid skitter.
Onlangs in Nyanga (misdaadhoofstad van SA) was Cele daar om te luister. Toe Ian Cameron (van Action SA) praat, sê Cele: “Shut up! Sit down! Get Out!”
Cameron is toe op hardhandige wyse uit die saal verwyder.
Toe Sars – en Eskom – se werkers onlangs (ook in Mandela-maand) gestaak en geplunder het, was Cele se polisie weer eens nêrens te sien nie. Dis egter ironies dat die Eskom- en Sars-werkers nie gestaak het toe Brian Molefe en Tom Moyane destyds Eskom en Sars besteel het nie. Mnre. De Ruyter en Kieswetter is besig om dinge reg te ruk, en Jan Oberholzer staan elke oggend drie-uur op sodat ons krag kan hê.
Suid-Afrika is die mees ongelyke land ter wêreld – selfs meer ongelyk as tydens Apartheid. Ons aanbid egter ’n God wat vir die armes omgee. (Lukas 4:16-18). Die Bybel sê ellende wag vir herders wat net na hulself omsien. O ja, oudpres. Jacob Zuma, wat gesê het dat die ANC sal regeer tot Jesus kom, se hofsake word aanhoudend verskuif omdat hy self wil sê wie die staatsaanklaer en regter vir sy hofsake moet wees. Dis seker net in SA waar so iets gebeur.
Al waarmee die huidige regering betyds is, is met beurtkrag. Voor 1994 het ons nie beurtkrag geken nie. Die huidige regering is nou al 28 jaar aan bewind. Die helfte daarvan (14 jaar) is ons met beurtkrag geteister.
Neologismes, nuwe woorde wat nie in my woordeboek voorkom nie, is woorde soos beurtkrag en kaderontplooiing, om maar ’n paar te noem. Hoekom het ons nog beurtkrag ten spyte van die talle windturbines en sonpanele wat ’n mens langs ons paaie sien? Werk die goed?
In dieselfde asem wil ek ook graag weet wat by Mossgas aangaan. Soos Marlene Jordaan sê: “In SA is elektrisiteit onbeskikbaar en petrol onbekostigbaar.” Dis skokkend!
Nou kom ek by my gunsteling-onderwerp – sport en kultuur. Al ons sportspanne presteer, behalwe Bafana-Bafana. Hulle het onlangs teen die kleine Mosambiek verloor en kon nie eens kwalifiseer om aan die Afrika-beker-kompetisie deel te neem nie. Hulle speel beter politiek as sokker en verteenwoordig nie alle rasse van ons land nie. Bafana-Bafana het die Afrika-beker in 1996 gewen met spelers soos Neil Tovey, Mark Fish en Shaun Bartlet, om net ’n paar te noem. Miskien moet Bafana Bafana eerder Desiree Ellis, die afrigter van die seëvierende Banyana Banyana-vrouesokkerspan, as sy afrigter aanstel. Geluk aan die Protea-krieketspan wat Engeland in die T20-kompetisie vermorsel het. Dan wil ek ook ons Sewes-rugbyspan, ons swemmers en ons atlete gelukwens met die medaljes wat hulle van die Statebondspele af huis toe gebring het. Ook het ons land se deelnemers tydens die Wêreld- kulturele kompetisie in Los Angeles met die goue medalje weggestap.
Laastens het ek net ’n vraag aan ons land se kiesers – hoekom is julle dan kwaad vir die regering? Hulle doen dan niks nie?





