Die Worcesteriet, Melissa Jane Campher (22) se nuutste enkelsnit is sopas uitgereik.


Die 22-jarige Worcesteriet en musikant, Melissa Jane Campher, wat vanjaar in die top 8 van die bekende talentsoekkompetisie, Die Kontrak, geeindig het, se nuutste enkelsnit is pas uitgereik.

Toe Melissa ’n paar maande terug die advertensie sien dat inskrywings oopgemaak het vir hierdie kompetisie, het sy geweet sy gaan ’n kans waag. Musiek is ’n droom waaraan sy skaaf sedert sy ’n tiener was.

“Ek het op ’n jong ouderdom my talent ontdek. Ek was 14 jaar oud voor ek die eerste keer voor mense gesing het. Dit was in ’n gemeenskapsaal en dit was ’n klein kompetisie waaraan ek deelgeneem het. Ek onthou die skaam meisiekind wat voor die mense gesing het. Daai eerste applous het iets ongeloofliks in my wakker gemaak,” vertel sy aan Standard.

Sy het toe haar droom begin navolg en het elke laaste Donderdag van die maand by ’n gereelde musieksamekoms in Worcester haar staal gaan wys. Sy verduidelik dit was soos ’n klein gemeenskap wat saamgekom het. Almal was lief vir musiek en as jy daar was, het jy net liewer geraak vir musiek. Hier het sy geleer om in haarself te glo en te groei tot die kunstenaar wat sy vandag is.

“Musiek is nie net vir my ’n stokperdjie nie. Dit is die res van my lewe. Ek wil ’n storie vertel en my talent deel. Die Here het ons almal talente gegee om met ander te deel. Ek wil ook jongmense inspireer. Ek wil daai kinders wat alleen en skaam in ’n kamer sit en droom om iets te doen met hul lewe, wys hulle kan.”

Sy vertel verder hoe kanse waag in die lewe ’n mens se hele lewe in ’n oogwink kan verander en as jy terugkyk, jy kan sien hoe ver jy gekom het.

“En dit begin alles by hoe jy in jouself glo. Toe hulle my kies, was ek geseënd. Ek was baie dankbaar. Die kompetisie was taai, maar dit was ’n wonderlike geleentheid.”

Sy sê mense soos Riana Nel, Karen Zoid en Refentse het haar baie geïnspireer. Intussen skryf dié boorling van Worcester en matrikulant aan die Hoërskool Breërivier ook haar eie musiek en wil graag haar naam in die musiekbedryf vestig.

“My styl word vasgevang in verskeie genres, maar die primêre ooreenkoms is dat dit in Afrikaans is. Ek is mal oor my taal. Ek is ’n liedjieskrywer en dit is hoe ek my verhaal deel.”

Sy het al met bekendes soos Anna Davel, Danie du Toit (Spoegwolf) en Hemelbesem gewerk toe sy ’n paar jaar gelede deel was van die ATKV Crescendo-kompetisie. Dit het haar geïnspireer om self verder te skryf. Sy het ook onlangs saam met Spoegwolf ’n duet gesing tydens ’n konsert in die Kaap.

Melissa se nuutste enkelsnit, Pille vir Kersfees, is haar weergawe van die bekende Heuwels Fantasties liedjie.

“Dit is ’n rock liedjie, maar ek het my eie spin op dit gesit. Pille vir Kersfees is vir my die mense wat in jou lewe is – jou familie en vriende en die samesyn wat oor die Kerstyd ervaar word. Dit is my pille vir Kersfees en dit is waarom ek die liedjie wou doen. Ek is mal oor Die Heuwels Fantasies.”

Melissa is ook geheimsinnig oor haar toekoms, maar inwoners (en Suid-Afrikaners) kan beslis verwag om baie meer van haar te hoor.

Pille vir Kersfees deur Melissa Jane is op alle digitale platforms beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article