Melissa in die eerste episode van Die Kontrak wat die afgelope Sondag uitgesaai is op Etv Extra (DSTV kanaal 195).


Die 22-jarige Worcesteriet en musikant Melissa-Jane Campher is een van vanjaar se top-16 finaliste in die gesogte talentsoekkompetisie, Die Kontrak.

Die Kontrak, ’n kompetisie aangebied deur die Coleske Musiekgroep, se tweede reeks het op Sondag 21 Augustus vanjaar weer op televisie begin.

Coleske, wat van die land se voorste kunstenaars bestuur asook die Afrikaans is Groot-konsertreeks aanbied, het nog net sukses bereik met hul soektog na talent.

Toe Melissa ’n paar maande terug die advertensie sien dat inskrywings oopgemaak het, het sy geweet sy gaan ’n kans waag. Musiek is ’n droom waaraan sy skaaf sedert sy ’n tiener was.

“Ek het op ’n jong ouderdom my talent ontdek. Ek was 14 jaar oud voor ek die eerste keer voor mense gesing het. Dit was in ’n gemeenskapsaal en dit was ’n klein kompetisie waaraan ek deelgeneem het. Ek onthou die skaam meisiekind wat voor die mense gesing het. Daai eerste applous het iets ongeloofliks in my wakker gemaak,” vertel sy aan Standard.

Sy het toe haar droom begin navolg en het elke laaste Donderdag van die maand by ’n gereelde musieksamekoms in Worcester haar staal gaan wys. Sy verduidelik dit was soos ’n klein gemeenskap wat saamgekom het. Almal was lief vir musiek en as jy daar was, het jy net liewer geraak vir musiek. Hier het sy geleer om in haarself te glo en te groei tot die kunstenaar wat sy vandag is.

“Musiek is nie net vir my ’n stokperdjie nie. Dit is die res van my lewe. Ek wil ’n storie vertel en my talent deel. Die Here het ons almal talente gegee om met ander te deel. Ek wil ook jongmense inspireer. Ek wil daai kinders wat alleen en skaam in ’n kamer sit en droom om iets te doen met hul lewe, wys hulle kan.”

Sy vertel verder hoe kanse waag in die lewe ’n mens se hele lewe in ’n oogwink kan verander en as jy terugkyk, jy kan sien hoe ver jy gekom het.

“En dit begin alles by hoe jy in jouself glo. Toe hulle my kies, was ek geseënd. Ek is baie dankbaar. Die kompetisie is taai. Jy moet jou storie ken. Toe my naam voor duisende mense geroep is by die Groot Jol-konsert het my hare gerys van blydskap. Almal soek so ’n geleentheid en daar kies hulle my. Musiek is samesyn. Dit bring mense bymekaar en dit is my doelwit.

Sy sê mense soos Riana Nel, Karen Zoid en Refentse het haar baie geïnspireer. Sy is dankbaar dat Refentse vanjaar ’n beoordelaar is en haar gekies het vir sy span. Sy fokus nou op die kompetisie en sien uit na wat die volgende rondes inhou. Intussen skryf dié boorling van Worcester en matrikulant aan die Hoërskool Breërivier ook haar eie musiek.

My styl word vasgevang in verskeie genres, maar die primêre ooreenkoms is dat dit in Afrikaans is.

“My styl word vasgevang in verskeie genres, maar die primêre ooreenkoms is dat dit in Afrikaans is. Ek is mal oor my taal. Ek is ’n liedjieskrywer en dit is hoe ek my verhaal deel.”

Sy het al met bekendes soos Anna Davel, Danie du Toit (Spoegwolf) en Hemelbesem gewerk toe sy ’n paar jaar gelede deel was van die ATKV Crescendo-kompetisie. Dit het haar geïnspireer om self verder te skryf.

Sy vertel sy wil die beste maak van hierdie kompetisie en haar drome uitleef.

“Ek gaan net my beste gee. Soveel goeie geleenthede lê hierin opgesluit. Ek kan dit doen. Ek weet dit is moeilik, maar ek sien uit om myself te druk. Ek kan nie sonder my ouers, my gesin en vriende se ondersteuning nie. Hulle glo in my. Hulle dra my deur hierdeur. Ek het ’n baie goeie ondersteuningsnetwerk. Daarvoor is ek die meeste dankbaar,” sluit Melissa af. Die Kontrak is Sondae om 18:30 op Etv Extra op DSTV kanaal 195 te sien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article