Die jonge Shané Zeelie het aan die begin van Desember die Teen Miss Western Province-titel gewen.
Shané Zeelie (16) is al van ’n jong ouderdom gewoond daaraan om in die kollig te wees en het al aan meer as 80 sulke kompetisies deelgeneem, maar sewe jaar gelede het sy besluit om ’n ruskans van daardie wêreld te neem.
“Ek het begin besig raak met my skoolwerk en sport. Maar vanjaar het ek besluit ek is gereed om terug te keer. My ma het my gevra of ek seker is en of ek gaan tyd hê om by alles uit te kom, maar ek het haar verseker dat ek tyd sou maak en ’n balans skep met alles wat ek aan die gang het.”
Sy het haar alles ingesit terwyl sy haar liefdadigheidswerk vir die kompetisie moes voltooi, maar het nie verwag om haar kategorie te wen nie.
“Ek was die jongste in die groep en ek was nogal opgestres, maar ek het positief gebly en in myself geglo. Ek was baie geskok toe ek as die wenner aangekondig is. Dit het goed gevoel om te wen.”
Sy het ook op die dag vyf ander titels gewen – vir Beste onderhoudsdrag, Beste onderhoud, Beste onderhoudsporte-feulje, Meeste persoonlikheid en Aktiefste op sosiale media met haar liefdadigheidswerk.
“Ek gaan beslis tydens my heersende jaar verskeie liefdadigheidsprojekte aanpak. Ek gaan in Januarie begin en beoog om elke maand iets vir die gemeenskap van Worcester te doen.”
Buiten dat sy ’n liefde vir skoonheidskompetisies het, is sy ook baie bedrywig met skoolaktiwiteite.
“Ek speel vir die skool se o. 16 A-hokkiespan. Ek geniet dit baie, veral wanneer ons toere doen. Ek hou van dans, so ek is ook deel van die skool se pom-pom-meisies en ek is ook ’n lid van die koor. Ek doen ook toneelfeeste, ek was onlangs die hoofkarakter. Om te ontspan is ek lief daarvoor om met my familie rondom die braaivuur te sit en om tyd met my vriende deur te bring.”
Wanneer sy haar skoolloopbaan voltooi het, wil sy radiografie gaan studeer.


