Drome kan bewaarheid word ten spyte van enige uitdagings wat jou in die gesig kan staar.
Dít was Mia le Roux se boodskap toe sy Saterdagaand op ’n glansryke geleentheid by Times Square, Pretoria, geskiedenis gemaak en as die eerste gehoorgestremde Mej. Suid-Afrika gekroon is.
Mia, ’n 28-jarige model en bemarkingsbestuurder, is in Sasolburg gebore en het in Oudtshoorn grootgeword. Sy beskryf haarself as veerkragtig, toegewyd, grasieus en vriendelik.
Mia, by wie ernstige gehoorverlies op eenjarige ouderdom gediagnoseer is, gebruik haar platform om inklusiwiteit te bevorder – veral in landelike gebiede. Sy sê haar gemeenskap het agter haar gestaan om haar die geskenk van gehoor te gee, wat haar geïnspireer het om ’n positiewe impak te maak en grense oor te steek.
“Dit het twee jaar van spraakterapie en voortdurende herhaling van woorde geneem voordat ek een dag na die lug gekyk het en my eerste vier woorde gesê het: ‘Kyk daar, wit wolke’,” het Mia in haar aanvaardingsrede gesê.
In die werklikheids-TV-program Crown Chasers het sy gesê: “Ek is doof, met ’n kogleêre inplanting – dit is my superkrag. Wanneer daar enige negatiwiteit is, skakel ek dit af. Die werklike rede waarom ek hier is, is om aan almal wat ooit anders gevoel het – veral in Suid-Afrika – te wys as jy selfversekerd staan en in jouself glo, sal ander ook. Dit is hoe jy ’n plek vir jouself in hierdie wêreld skep.”
Mia wil haar platform gebruik om ander te inspireer en praktiese veranderings te bevorder – veral in landelike gebiede. Sy wil ’n ruimte skep waar mense meer ingesluit voel en gehoorgestremdes ander deur middel van werksessies kan opvoed oor hoe hulle kan help. “Ek wil ook die gemeenskap – veral landelike gebiede – bereik en hulle die gereedskap gee om hul volle potensiaal te bereik. Ek glo ons kan nie hierdie land op ’n nasionale vlak help as ons nie op plaaslike vlak begin nie,” het sy gesê.
Mia het gesê dit voel vir haar asof sy haar hele lewe lank voorberei het om hierdie rol te vervul. “Vandag is dit my beurt om jou gemeenskap te wees; om ’n stem te wees vir diegene wat – soos ek – die uitdagings van anders wees en uitgesluit voel ervaar het. Ek is hier om as jou verteenwoordiger te dien; om die sake wat vir Suid-Afrikaners saak maak, te bevorder en ’n ruimte te skep waar almal op hul unieke, pragtige manier kan skyn.”
Vyf interessante feite oor Mia:
. Sy het een keer ’n bylgooi-kompetisie gewen.. Sy het ’n sagte plekkie vir diere en het ’n oulike hondjie genaamd Bobby.. In November 2023 het sy tydens ’n roetine-ondersoek ’n knop in haar bors gevoel, wat gelukkig nie-kwaadaardig was.. Toe sy 13 was, was sy oorgewig.. As kind het sy ’n obsessie met Peter Pan gehad.
Mia se oorwinning is ’n inspirasie vir die Dowe gemeenskap en ’n bewys van haar veerkragtigheid en toewyding om grense oor te steek en inklusiwiteit te bevorder.





