Die nuutverkose Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, se gunstelinggereg om vir familie en vriende voor te sit, is ’n geurige Thaise groenkerrie met hoender.


Die nuutverkose Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, die eerste gehoorgestremde Mej. SA, is ’n ywerige kok. Een van haar gunstelinggeregte om vir vriende en familie te maak, is haar Thaise groen kerrie met hoender.

“Dit is ’n Jamie Oliver-resep wat ek aangepas het om bestanddele in te sluit wat makliker in Suid-Afrika beskikbaar is. Dit is ’n ware wenner en daar is nooit oorskiet nie, want almal kom altyd terug vir tweede porsies,” sê Mia.

Mia le Roux se Thaise groenkerrie met hoender

Jy benodig:

. 750g hoenderborsies sonder vel

. 2 eetlepels olyfolie

. 400 g knopiesampioene, gesny

. 400 g klappermelk

. 1 koppie hoenderaftreksel

. 200 g suiker-ertjies

. ½ bos vars basiliekruid

. 1 rooi rissie, gekap

. 1 lemmetjie

Vir die kerriepasta:

. 4 knoffelhuisies

. 2 uie

. 5 cm stuk gemmer

. Skil en sap van 1 suurlemoen

. 4 groen rissies, gekap

. 1 teelepel gemaalde komyn

. ½ bos vars koljander

. 2 eetlepels vissous

So maak jy:

. Om die kerriepasta te maak, skil die knoffel, uie en gemmer, kap grof en plaas in ’n voedselverwerker. Voeg die suurlemoenskil by en druk die sap in die verwerker. Sny en voeg die rissies, komyn en die helfte van die koljander by. Vermeng tot fyn. Voeg dan die vissous by en vermeng weer.

. Sny die hoender in happiegrootte stukke. Verhit die olyfolie in ’n groot pan oor medium hitte, voeg die hoender by en braai vir vyf tot sewe minute of tot net goudbruin. Verwyder die hoender wanneer dit net gaar is en pak op ’n bord.

. Plaas die pan terug op medium hitte, voeg die sampioene by en braai vir vier minute of tot goudbruin. Skep met ’n gaatjieslepel op ’n bord.

. Verlaag die hitte tot medium laag en voeg die Thaise groen pasta by en prut vir vier minute; roer af en toe. Giet dan die klappermelk en die hoenderaftreksel by. Verhoog die hitte, bring dit tot kookpunt en laat dit vir 10 minute prut of totdat sous effens verminder.

. Roer die hoender en sampioene by, verminder die hitte tot laag en kook vir ’n verdere vyf minute of totdat die hoender gaar is. Voeg die suiker-ertjies by vir die laaste twee minute.

. Proe en indien nodig, geur met sout en varsgemaalde swartpeper.

. Snipper die basiliekruidblare en roer dit en die oorblywende koljander deur die kerrie en strooi oor die gekapte rooi brandrissie.

. Sit voor met gestoomde rys en ’n skyfie lemmetjie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article