’n 59-jarige man het Maandag 11 Maart in die hof verskyn in verband met die verkragting van ’n 17-jarige meisie.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het die voorval reeds in Desember verlede jaar gebeur. Ander inligting dui daarop dat die man die slagoffer se oom is.
“Die presiese datum van die voorval is nie bekend nie. Dit het voor Kersfees gebeur. Die man het die 17-jarige geneem om haar naels by sy vriendin te laat doen. Op pad daarnatoe het hy egter sy roete verander,” verduidelik Jacobs.
Die meisie het toe vir haar oom gevra hoekom hy nie direk na sy vriendin toe ry nie.
“Hy het toe vir haar gesê hy wil eers ’n sigaret rook, want as hy by sy vriendin gaan rook, sal sy die sigarette afvat. Hy het toe by die begraafplaas in Johnsonpark met haar stilgehou. Hy toe vir haar gesê om haar klere uit te trek.”
Sy het egter geweier.
“Hy het haar toe nader na hom toe getrek en self haar klere uitgetrek en haar onderklere tot by haar knieë afgetrek. Hy het toe sy vingers gebruik om haar te verkrag. Sy het toe begin bloei en hy het gestop.”
Hy het haar ook gewaarsku dat sy nie vir haar pa moet vertel wat gebeur het nie.
“Hy het vir haar gesê sy mag nie vir haar pa sê wat gebeur het nie en dat haar pa hulle albei sou doodmaak. Hy het haar toe by sy vriendin gaan aflaai om haar naels te laat doen.”
Die saak is egter eers op 5 Maart by die polisie aangemeld. Die beskuldigde moet Woensdag 20 Maart weer in die hof verskyn.



