Die yslike Kaapse kobra wat danksy die paraatheid van Lisa Theron (links) veilig verwyder is.


Klein Lisa Theron het reeds op die tenger ouderdom van drie jaar ’n belangstelling in slange getoon – nou nie iets waarin die gewone Barbie­pop-spelende meisie sal belangstel nie.

Lisa is ’n ware plaasmeisie wat op ’n plaas in die De Wet-omgewing grootword het, en hier is slange nie vreemd nie.

Haar ma het vir haar en haar maatjies op haar derde verjaardag ’n bewusmakingspraatjie deur die Breederivier-vallei se bekende Silver Fox-slangman, oftewel André du Preez, gereël. André het die jongspan kom toespreek oor alle aspekte van slange – die gevare wat hulle inhou, wat om te doen as jy ’n slang raakloop en ook die belangrikheid van slange in die ekostelsel.

Verder het Lisa se ouers haar ook deur die jare deurgaans hieroor touwys gemaak.

Vandag is Lisa ’n gr. 2-leerder aan die Laerskool Worcester-Noord.

Die Silver Fox se praatjie het oënskynlik ’n baie goeie indruk gelaat, en onlangs – twee jaar later – het sy praatjie waarskynlik Lisa se lewe gered.

Haar ouma, Norma Wium, het vertel die gesin het op die plaas in die tuin vertoef.

Lisa is toe binnetoe na haar slaapkamer en enkele oomblikke later het sy gegil en buitentoe gehardloop.

Sy het aan haar ouers verduidelik dat sy ’n groot Kaapse kobra in haar kamer gewaar het, en dadelik sagkens omgedraai en die kamer se deur toegemaak, nes “oom Silver Fox” hulle destyds geleer het.

Sy het ook vir hulle presies gesê watter slang dit is.

Lisa se pa het André van die slang in kennis gestel. André het aan hom voorgestel dat die slang waarskynlik ná Lisa se aankoms in die slaapkamer iewers in die vertrek sou wegkruip en dit was dus baie goed dat Lisa die vertrek se deur toegetrek het om die slang sodoende af te sonder.

En wanneer hulle die slang vind, moet hulle hom bel en hy sal dit kom haal, is hulle geleer.

Ná sowat ’n uur se versigtige gesoek is die slang onder ’n ingeboude kas gevind waar dit weggekruip het.

André is toe plaas toe en het sommer die Kaapse kobra, wat steeds onder die kas geskuil het, uitgebring en na veiligheid geneem.

André vertel die slang was ’n behoorlike bielie van ’n kobra – ongeveer 1,4 m lank.

“Dit is vir my ongelooflik dat Lisa twee jaar ná my praatjie my presiese wenke gevolg het oor wat om te doen as jy op ’n slang afkom. Sy is werklik besonders.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article