’n Vierjarige meisie het verlede Dinsdag in Montagu verdrink.
Die polisie het bevestig dat die voorval omstreeks 17:15 by die Kingnarivier, naby Mandela-plein in Ashbury, gebeur het.
“Volgens inligting ontvang het die kinders by die rivier gespeel en geswem toe hulle ontdek dat die meisietjie verdrink het,” het AO Suria Meyer, ’n woordvoerder van die Montagu-polisie, gesê.
In ’n verklaring wat deur die Langeberg-munisipaliteit uitgereik is, het die burgemeester, Schalk van Eeden, medelye met die bedroefde familie betuig.
“Ons betuig ons innige simpatie met die familie van die klein vierjarige en bied hulle vertroosting in hierdie uitdagende tydperk.”
Die verklaring maan ook dat dit van kardinale belang is om kinders rondom water dop te hou.
“Met die onlangse swaar reënval wat in die gebied ervaar is, is dit van kardinale belang om toesig te hou oor kinders rondom water, selfs in oënskynlik vlak gebiede. Leer hulle oor die risiko’s en maak seker hulle verstaan die belangrikheid daarvan om weg te bly van riviere en damme, veral tydens oorstromings,” lui die verklaring verder.
Van Eeden het ook gesê hierdie voorval dien as ’n hartverskeurende herinnering aan die belangrikheid van konstante waaksaamheid, veral in tye van natuurrampe soos die onlangse oorstromings.
“Ek doen hiermee ’n beroep op ouers, voogde en lede van die gemeenskap om asseblief ons kinders fyn dop te hou en te verhoed dat hulle ná die swaar reën naby riviere en damme speel. Riviere en damme kan onskadelik lyk, maar hulle verberg ongesiene gevare soos puin.”
Die munisipaliteit het ook die volgende riglyne in sy verklaring gedeel:
. Maak altyd seker dat jou kind onder toesig van ’n verantwoordelike volwassene is terwyl hulle swem of net of om water speel.. Leer jou kinders swem. Skryf kinders in vir ouderdomsgepaste swemlesse om hulle teen verdrinking te help beskerm.. Leer kardiopulmonêre resussitasie (KPR/CPR) en reddingstegnieke. Jou KPR-vaardighede kan iemand se lewe red.. Mediese toestande soos epilepsie verhoog jou risiko om te verdrink. As jou kind epilepsie het of aanvalle ervaar, maak seker dat hulle altyd onder toesig is.. Wees altyd voorbereid en weet wat om in die onvoorsiene geval van ’n noodgeval te doen. Stoor alle noodnommers op jou selfoon of naby vir maklike toegang.




