As dit van ANC-LP’s afhang, sal skoolbeheerliggame geskrap word.
Dit was die duidelike boodskap verlede Donderdag (17 Augustus) in ’n portefeuljekomiteevergadering wat gehandel het oor die wysigingswetsontwerp op basiese onderwyswette (Bela), waartydens ANC-LP’s gesê het dat die wet wat beheerliggame in staatskole beskerm, gestroop moet word.
Die rede vir dié stelling is omdat die party onder meer die toelatingsbeleid, aanstellings en onderrigtaal wil vasstel, eerder as om dit in die beheerliggaam se hande te laat.
Standard het navraag gedoen by David Maynier, provinsiale minister van onderwys. Hy het aan Standard gesê het dat hy nie die Bela-wetsontwerp ondersteun nie.
“Die Wes-Kaapse regering ondersteun nie die wetsontwerp nie, aangesien dit poog om die magte van skoolbeheerliggame te erodeer, wat die seggenskap wat ouers in hul kinders se opvoeding het, sal verminder.”
Dié wetsontwerp, wat tans voor die parlement is, stipuleer dat die staat sal bepaal watter onderrigtaal en toegangsbeleid ’n skool moet handhaaf, eerder as die beheerliggaam, soos dit tans geskied.
Die ANC-LP Patamedi Moroatshehla se argument in verlede Donderdag se bespreking was dat beheerliggame te veel vryheid geniet wat daartoe bydra dat die beleid “onwettig” gebruik word om sekere leerders toegang tot ’n spesifieke skool te weier.
Die EFF-LP Mzwanele Manyi het bygevoeg dat dié party ook die Bela-beleid teenstaan omdat dit rassisme in skole kan vererger wanneer beheerliggame nie sekere leerders toegang tot ’n skool van hul keuse gee nie.
Beide die ANC- en EFF-LP’s het aangevoer dat die besluite wat by die beheerliggame berus eerder aan die onderwysdepartemente moet gaan.
Die DA, ACDP, asook VF-plus was ook teenwoordig by die bespreking en het hul teenkanting teen die Bela-beleid duidelik gemaak deur te sê dat beheerliggame hul magte moet behou, en dat ’n regsopinie ingewin moet word oor die regverdigheid van dié omstrede beleid.
Volgens Charl Schoeman, skoolhoof van Worcester Gimnasium, is skole “juis funksioneel” omdat dit beheerliggame bevat, en hy het dit duidelik gemaak dat hy nie met die Bela-beleid saamstem nie.
’n Hoof van ’n laerskool in Worcester, wat anoniem wil bly, het verduidelik dat die Bela-beleid wel ’n gevaar vir skole se beheerliggame inhou omdat dit die magte en outonomiteit van dié entiteite heelwat beperk.
Volgens dié hoof is dit kommerwekkend dat aanstellings, taalbeleide en toelatings moontlik deur die onderwysdepartemente bestuur gaan word omdat dit die kern van ’n skool kan verander.
Hy het egter ook verduidelik dat nie alle aspekte van die beleid negatief is nie.
’n Hoof van ’n ander hoërskool in die dorp het gesê dat daar sekere aspekte is van die Bela-beleid wat dié beheerliggaam bekommer, en dit sluit in die taal-, toelating- en aanstellingsbeleid, asook die feit dat al die skole hul leesmateriaal van een instansie moet aankoop, wat die deur na korrupsie kan oopmaak.





