Inwoners sal van 1 April omvattende gesondheidsdienste by die nuwe kliniek in Avianpark kan kry.
Hoewel ’n toegewyde kliniek nog nie vroeër in hierdie gemeenskap beskikbaar was nie, het inwoners gebruik gemaak van die Worcester-gemeenskapsdagsentrum (die “daghospitaal” in Suggetstraat) en het hulle toegang gehad tot beperkte gesondheidsdienste by Maria Pieterse- en Somersetpark-satellietkliniek.
Dienslewering by dié satellietklinieke kom op 31 Maart tot ’n einde.
“In die vier jaar wat ek al in hierdie gemeenskap werk, kon ek sien die mense smag na nóg dienslewering. Ons kon tot nou basies net fokus op dienste wat voorkomend is. Soms het mense opgedaag met behoeftes wat meer geverg het as die beperkte dienspakket wat ons by plekke soos die twee satellietklinieke kon aanbied,” sê Russel Saaiman, een van die gesondheidswerkers wat van 1 April af sy dienste by die Avianpark-kliniek sal lewer.
Die koms van die kliniek is op vele maniere voordelig vir die inwoners, sê hy. Omdat hier nou ’n kliniek naby aan die gemeenskap is, sal hulle nie hoef te betaal om elders heen te reis nie.
Nog ’n bekende gesig wat inwoners by dier Avianpark-kliniek kan verwag, is dié van sr. Conzilia Cupido.
“Die opening van die kliniek gaan ook druk verlig op die gemeenskapsdagsentrum in Worcester. Ek hoop die gemeenskap verwelkom en maak gebruik van ons dienste. Ons wil graag hand-aan-hand saam met inwoners vir ’n gesonder toekoms werk. Ons is baie opgewonde oor die nuwe kliniek en die dienste wat ons nou aan Avianpark kan bied,” sê Cupido.
Om die druk op die Avianpark-kliniek te verlig en werk by die twee satellietklinieke af te skaal, moet mense wat voorheen voorafverpakte kroniese medikasie by die satellietklinieke afgehaal het, dit van nou by die daghospitaal afhaal.
Mense wat al teen 2 Maart hul voorafverpakte kroniese medikasie by een van die satellietklinieke moes afhaal, kan hul medikasie by die daghospitaal se apteek van Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 10:00 afhaal.
. Die Avianpark-kliniek (langs Avianpark-biblioteek) sal van 1 April af gesondheidsdienste lewer van Maandae tot Vrydae, 07:30 tot 16:00. Mense wat vrae oor die Avianpark-kliniek het, kan 023 348 1351 skakel.





