Worcester Villagers (Villa) moes Saterdag 1 Junie op sy tuisveld op Bolandpark op meer as net suiwer vernuf staatmaak om die besoekende Swellendam met 24-14 te troef nadat Villa teen rustyd 14-6 voor was.

Dié laaste wedstryd in die eerste ronde van die Grootuitdaagkompetisie, wat in reënweer gespeel is, het albei spanne nadelig beïnvloed en hardlooprugby taamlik aan bande gelê. Dit het egter nie verhoed dat die groot groep rugbyondersteuners wat die wedstryd bygewoon het, by tye met uithalerspel getrakteer is nie.

Villa het se neus eerste voor gekry toe die agsteman en kaptein, Edward Haas, ná ’n dryfmaal-beweging oorgegaan en die losskakel Bruce Steyn verdoel het. Swellies kry kort hierna hul eerste punte toe die heelagter Amecine Jansen ná ’n skrumoortreding met ’n strafskop slaag. Swellies kruip nog nader aan die voorsprong toe Jansen kort hierna met nog ’n strafskop slaag. Villa lei hierna ’n gevoelige slag toe sy heelagter, Jonathan Jordaan, met ’n draagbaar van die veld geneem word ná ’n besering. Na ’n paar noodgedwonge verskuiwings vind Villa egter weer sy voete en gaan haas oor vir sy span se tweede drie ná volgehoue druk. Met die geslaagde doelskop van Steyn gaan drink die manne water met Villa teen rustyd 14-6 voor.

Kort ná die aanvang van die tweede helfte laat krimp Swellies se losskakel, Chriswill Jeftha, die voorsprong toe hy met ’n blitsige skepskop onder geweldige druk slaag. Villa slaan egter hard terug toe die slot Benito Mc Pherson met brute krag oorbars vir ’n onvervyfde drie. Swellies gee egter nooit bes nie en ’n belowende agterlyn-beweging van die tuisspan ontaard in ’n nagmerrie toe Swellies se regtervleuel, Shaun-Lee Arends, onderskep en goed 70 m met spoed afsit doellyn toe. Hoewel Villa se spoedvraat en flank Mario Marinus hom agternasit en boonop kort voor die doellyn inhaal, dra sy momentum hom oor en word die drie toegeken. Villa kry egter sy vierde en bonuspunt-drie toe sy linkervleuel, Cubitt Micheals, met perfekte aanvoeling ’n binne-aangee van sy skrumskakel, Gurshwin Africa, raakvat en gaan druk. Steyn se doelskop trek rakelings regs verby, maar Villa stap as oorwinnaars met 24-14 van die veld. . Villa se naasbestes het met 18-8 in die hoofvoorwedstryd van die dag geseëvier terwyl Villa se derdes met 26-0 in die eerste wedstryd van die dag bo was. . Die tweede ronde van die Langeberg-afdeling begin amptelik op 15 Junie met Villa wat in die King Edward-stadion in Montagu teen Villagers Montagu, of Sesduim, soos hulle algemeen bekend staan, te staan gaan kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article