Die oud-Bok Breyton Paulse se ma Setta Visagie (foto) en sy tante, Marie Gelant, het in Hermanus verdrink.Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

Medelye van oor die land heen het vir die Oud-Bok en sport-aanbieder Breyton Paulse ingestroom nadat dit bekend gemaak is dat sy ma en tannie, albei van Ceres, Sondag in ’n fratsongeluk by die Ou Hawe in Hermanus dood is.

Volgens kaptein Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, is die twee susters, Setta Visagie (Paulse se ma) en Marie Gelant, omstreeks 15:00 deur ’n brander van die rotse afgeslaan toe hulle op die rotse gestaan het sodat foto’s van hulle geneem kon word.

“Hul liggame is deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) uit die see gehaal. Die familie het dadelik traumabehandeling ontvang,” het September gesê.

Volgens haar het die familie uit Ceres in Hermanus kom vakansie hou toe die tragedie hulle getref het.

Volgens André Barnard, die stasiebevelvoerder van die NSRI in Hermanus, is hulle omstreeks 15:03 gekontak oor die twee liggame wat in die see by die Ou Hawe gedryf het.

“Die Rotarian Burnett is te water gelaat en die NSRI-menseredders tesame met die reddingsvoertuig en die St. Johns-amulansdienste was gou op die toneel. Noodbehandeling is toegepas, maar niks kon vir hulle gedoen word nie en paramedici het hulle op die toneel dood verklaar. Die Hermanus-polisie is dadelik in kennis gestel en ’n dossier is geopen. Ons dink aan die familie in dié moeilike tye,” het Barnard gesê.

Paulse het aan Netwerk24 gesê “dit is baie hartseer; bid vir my en my familie”.

Charl du Toit van De Keur-landgoed in die Koue Bokkeveld en ’n oudwerkgewer van Visagie, het gesê Visagie het 50 jaar vir hulle gewerk en hulle kinders help grootmaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article