’n Groep ouers van Wolseley is erg ontsteld nadat hulle by hul kinders verneem het die skool gaan hulle nie toelaat om die matriekafskeid by te woon nie, tensy hul skoolgeld ten volle betaal is.
Die skool ontken hierdie aantygings.
Een van die ouers, wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat het, sê hulle was vreeslik geskok oor dié vermeende besluit van die skoolhoof.
“Ná die afgelope drie jaar waardeur ons is, is alles duurder. ’n Mens sukkel om werk te kry en net kop bo water te hou. Ons kinders werk so hard en sien vreeslik uit na die matriekafskeid, maar dan doen hulle dít. Dit voel net nie reg dat ons kinders gestraf word nie,” vertel een van die ma’s.
’n Ander matrikulant se pa voer aan die leerders is op ’n dag net ingelig oor dié besluit en dit het sy dogter vreeslik ontstel.
“Ek weet ons kan nie altyd vir haar alles gee wat sy verdien nie, maar sy werk hard om hierdie spesiale geleentheid te kan bywoon.”
Standard het na die skoolhoof uitgereik, maar teen druktyd geen antwoord gekry nie.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die departement van onderwys in die Wes-Kaap (WKOD), sê die skoolhoof het hierdie kommunikasie aan die leerders ten sterkste ontken.
“Die skool het ouers slegs daaraan herinner dat hulle skoolfonds moet betaal, maar leerders met uitstaande fooie word nie belet om die matriekafskeid by te woon nie.
“Die afskeid vind op 13 Oktober plaas en kaartjies kos R600. Die leerders het tot 30 September om vir die matriekafskeid te betaal,” het sy bygevoeg.
Hammond sê die skool het ook matriekbaadjies bestel.
Leerders met uitstaande skoolgeld sal toegelaat word om ’n matriekbaadjie te kan koop.
“Baie skole sukkel om skoolgeld uit ouers te kry. Hoewel sommige werklik nie die skoolgeld kan bekostig nie, doen ander min moeite om dit te betaal, al het hulle die hulpbronne tot hul beskikking. Skole maak staat op fooie om vir bykomende beheerliggaam-poste en hulpbronne te betaal.
“Niks is dus verkeerd daarmee dat skole ’n beroep op ouers doen om hul skoolgeld te betaal om die gehalte van onderrig by hul kind se skool te verbeter nie.”
Die ouers meen egter dit stem nie ooreen met die gevoel wat baie van die leerders gekry het nie, maar is dankbaar dat dit nou deur die WKOD bevestig is dat alle matrieks wel die afskeid sal mag bywoon.





