Adriaan Krynauw (gr. 8) se lewe is gered toe Dezré Goosen, ’n matriekleerder, hom blitsig op HTS Drostdy se gr. 8-kamp te hulp gesnel het.


Die vinnige optrede van ’n matriekleerder van HTS Drostdy in Worcester het ’n gr. 8-seun se lewe gered.

Sommer met die begin van die 2022-skooljaar is die nuwe gr. 8-leerders van Drostdy op verskeie opwindende wyses deel van die hoërskoollewe gemaak.

By hul gr. 8-kamp, voordat die skool begin het, is hulle in Survivor-groepe verdeel, met die bestuurkomitee en VRL wat leiding geneem het. Tussen oefeninge vir die groentjiekonsert, ouerbraai, atletiekbyeenkoms en leer-jou-skool-ken- aktiwiteite was die gr. 8-swemgala in die hittige somerweer een van die hoogtepunte.

Een van die gr. 8-leerders, Adriaan Krynauw, kon op hierdie dag weens ’n genetiese, kroniese harttoestand, verlengde QT-sindroom, slegs aan die dryfaktiwiteit en nagklere-resies deelneem.

Dié seldsame toestand, wat hom inperk wat deelname aan hoë-impak- fisieke aktiwiteite betref, is reeds by geboorte by hom gediagnoseer. Simptome is onder meer dat sy hart uit ritme gaan en tot stilstand kan kom en hy sy bewussyn kan verloor.

Met die uitklim ná die nagklere-resies het Adriaan sy bewussyn verloor en tussen bankies neergeslaan. ’n Gr. 12-leerder, Dezré Goosen, – ’n gekwalifiseerde menseredder – was dadelik op die toneel en het mond-tot-mond-asemhaling toegepas.

Adriaan was reeds blou en sy kon skaars ’n polsslag voel. Hy het glad nie op sy eie asem gehaal nie. Adriaan is in ’n ambulans gestabiliseer en na MediClinic Worcester geneem waar hy verdere behandeling ontvang het.

Volgens sy ma, Surene Krynauw, het die dokter hulle meegedeel dat die uitkoms vir Adriaan heeltemal anders sou wees indien Dezré nie daar was om noodhulp toe te pas nie. Dit het sy lewe gered.

Adriaan is intussen weer terug skool toe en geniet elke oomblik. Sy ouers het in ’n brief aan die skool die onderwysers, BK en VRL bedank vir elkeen se rol om Adriaan by te staan en welkom te laat voel. Vir Dezré het hulle uitgesonder deur te sê volgens hulle het sy haar engelvlerke gekry met haar spoedige en perfekte optrede wat vir seker hul seun te lewe gered het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article