Die eindeksamen is miskien “die groot eksamen van jou skoolloopbaan”, maar moenie vergeet dat die Junie-eksamen óók belangrik is nie.
Dit is Nola Payne, senior programhoof by die onafhanklike instituut vir opvoeding, se boodskap aan vanjaar se matrieks.
Sy sê die halfjaar-eksamen sal moeiliker wees as enige ander eksamen tot dusver en sal graad 12-leerders ’n goeie aanduiding gee van wat in die eindeksamen van hulle verwag sal word. Dit sal hulle ook ’n idee gee van hoe om die res van die jaar aan te pak; watter kennis en vaardighede om nog te slyp.
Halfjaar-prestasie is belangrik
Halfjaar-punte dra by tot jou finale punte en is om twee redes belangrik. Eerstens kan dit ’n buffer wees indien iets later vanjaar skeefloop. Tweedens gebruik tersiêre instellings jou finale punte vir finale goedkeuring om te mag studeer, selfs al het jy reeds in graad 11 voorlopige keuring gekry.
Goeie punte in Junie kan ook jou selfvertroue ’n hupstoot gee vir die laaste deel van die jaar.
Maar halfjaar-prestasie is nie die einde nie
Hoewel ’n goeie vertoning vir seker uiters voordelig is, is teleurstellende punte gelukkig nie die einde van die pad nie.
Onthou dat jy nog ’n hele paar maande oor het om alles in die stryd te werp, en as jy ’n doelbewuste poging aanwend, kan jy nog jou punte heelwat verbeter.
Jy kan dus jou halfjaar-ervaring gebruik vir waardevolle insig wanneer jy jou strategie vir die res van die jaar uitwerk.
Met die hulp van jou onderwysers, studieleier en ondersteuningstelsel by die skool, kan jy ’n raamwerk uitwerk wat die mees uitdagende afdelings, wat die grootste negatiewe uitwerking op jou punte gehad het, eerste takel.
Jou halfjaar-eksamen kan egter ook aandui dat jy jou planne vir volgende jaar sal moet aanpas.
Indien jy byvoorbeeld by ’n instelling wou studeer waarvoor jy nou definitief nie keuring sal kry nie, maak nie saak hóé hard jy studeer nie, het jy nou genoeg tyd om jou opsies objektief te oorweeg en ’n nuwe strategie uit te werk deur navorsing te doen en met kundiges by tersiêre instellings te gesels.
Dit kan ’n goeie ding wees, want dit kan heelwat druk van jou haal as jou visie nie met die realiteit gestrook het nie. Dit kan die weg baan om ’n opsie te kies wat beter by jou unieke vaardighede en sterk punte pas.Die halfjaar-eksamen beteken jou aansoek-spertyd kom nader
Met kompetisie wat al sterker raak vir plek by tersiêre instellings, veral vir gewilde en gerespekteerde instellings en kwalifikasies, is dit belangrik dat leerders so gou moontlik om hoëronderwys-geleenthede aansoek doen.
Dit lyk miskien nie na ’n prioriteit terwyl jy vir jou eksamens leer nie, maar as jy ernstig oor jou studies ná skool is, kan jy dit nie langer uitstel nie.
Duisende matrieks het reeds vir hoër onderwys aansoek gedoen, en as jy nie reeds by hulle aangesluit het nie, moet jy dit gouer eerder as later doen. Namate die jaar vorder en die finale eksamens al nader kom, sal jy minder lus wees om tyd en energie te bestee aan studie-opsies oorweeg.
Dit is daarom ideaal om jou Junie-vakansie te gebruik om tersiêre instellings te besoek, aanlyn of per afspraak op die kampus, indien jy dit nog nie gedoen het nie.
Wanneer jy die instellings besoek, onthou dat dit ook belangrik is om die instellings uit te vra oor hul nagraadse ondersteuning en geïntegreerde leer in die werkplek.
“Hierdie is ’n opwindende tyd in die opvoedingsreis van leerders. Ja, dit is uitdagend en by tye die oorsaak van heelwat senuweeagtigheid, maar jy is waarlik nou besig om die finale afronding aan jou skoolloopbaan aan te bring en voor te berei vir die volgende fase van jou lewe en volwassenheid,” sê Payne.
“Jy moet jou absolute bes doen en fokus behou reg tot die einde tydens jou halfjaar-eksamens, maar terselfdertyd moet jy deurgaans jou strategie heroorweeg en jou pad aanpas indien nodig.
“Jy moet ook oorweeg hoe jy nou jou toekoms benader, en die regte boustene lê om daar uit te kom.”




