Verstomde Roodewal-inwoners kyk hoe hul besittings in vlamme verswelg word.


Altesame 17 mense, onder wie etlike kinders – almal van die informele nedersetting Askamp in Roodewal, Worcester – is verlede Donderdagmiddag (5 Desember) met Kersfees om die draai dakloos gelaat toe hulle al hul besittings in ’n verwoestende brand verloor het.

Altesaam vyf informele strukture het tot op die grond afgebrand. Niemand is in die brandtragedie, wat kort voor 13:00 uitgebreek het, beseer nie.

Claudia Klein (43), ’n huishulp wie se informele woning ook deur die vlamme verswelg is, sê haar saamleefmaat, Romarlo Cyster (32), het haar omstreeks 13:00 gebel met die nuus dat hul woning aan die brand is.

“Alles binne my het doodstil gaan staan. Ek kon nie praat nie, want dit was net te veel vir my. My werkgewer het my onmiddellik huis toe gebring,” het ’n verslae Klein aan Standard Breederivier Gazette vertel.

Klein sê op pad huis toe het sy die heeltyd gehuil en terselfdertyd gehoop en gebid haar dogter, Suné Neethling (24), haar seun, Jake (2), en haar kleinkind, Jeroné (6; Neethling se kind), is ongedeerd.

Klein het in trane uitgebars toe sy by die plek aankom waar haar woning die oggend nog gestaan het.

Sy sê Suné was in erge skok. Volgens Klein het Suné geslaap toe bure haar weens die brand wakker gemaak het.

“Sy was so deurmekaar dat sy haar meisiekind in die huis vergeet het. Hulle moes toe terug in die brandende huis hardloop om die kind te gaan uithaal.”

Volgens Klein het hulle benewens hul besittings, al hul klere, kos en geskenke wat hulle al vir Kersfees gekoop het, in die brand verloor.

“Dit het my lank geneem om aan al my huisware te kom. Ek het net op my voete gekom, toe word alles weggeruk.”

Volgens Klein slaap hulle tans by ene Hendriena Filander.

Lisa Fourie (46), wie se informele woning ook afgebrand het, sê niemand was tuis toe die brand uitgebreek het nie.

“Toe hulle vir my kom sê my plek brand, het ek seker vir 10 minute ’n lamheid in my rug gevoel. Ek het net daar gesit.

“Ná 10 minute, toe staan ek op. Toe ek by die huis aankom, was daar niks oor nie. Ek is ’n enkelouer. Ek voel so leeg en seer. Ek weet nie waar om nou te begin nie. Ek is die enigste broodwinner en het vier kinders. Ek het alles in die brand verloor.”

Volgens Fourie woon sy en haar kinders tans by haar ma.

Cyster sê die brand het glo ontstaan toe mense in ’n nabygeleë hok koper gesmelt het.

Margaret Swartz, ’n plaaslike wyksraadslid, sê teen Vrydagmiddag is nog na alternatiewe behuising vir die slagoffers gesoek.

Volgens haar het die AGS-kerk in Arendsestraat en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit die slagoffers intussen van kospakkies voorsien.

“Ons is ook dankbaar vir die gemeenskap, want hulle het baie mooi op ons pleidooie vir hulp gereageer. Ons is in die proses om nog klere en beddegoed van skenkers te kry,” sê Nik Wullschleger, raadslid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article