Margo Fielies (18) van Worcester Gimnasium is ’n aspirantskrywer en digter wat graag ook die onderwys wil betree.

Credit: SYSTEM

’n 18-jarige matriekleerder aan Worcester Gimnasium wil graag haar droom verwesenlik om haar eie digbundel vry te stel.

Margo Fielies, wat tans haar eindeksamen skryf, is ’n jong vrou met ’n passie vir woorde en veral om gedigte te skryf oor die kwessies waarmee tieners vandag te doen kry.

“Ek skryf al gedigte vandat ek baie jonk is en het wonderlike taalonderwysers by my skool wat my bystaan en inspireer. My droom is om onderwys te gaan studeer en op my gedigte te fokus. Ek wil graag ’n digbundel uitreik,” vertel sy aan Standard.

Fielies het by talle universiteite en instansies aansoek gedoen om haar studies volgende jaar verder te neem, maar wag nog op nuus oor haar aansoeke.

“Ek moet ook maar kyk waar ek ’n beurs kan kry. Studeer is duur en ek wil weet as ek aanvaar word, sal ek dit kan bekostig. Ek wil graag universiteit toe gaan, maar kyk ook na ander instellings om my droom te bewaarheid.”

Sy skryf graag gedigte as sy hartseer voel, wanneer sy gelukkig is, as sy kwaad is of haarself net wil opbeur. Sy verduidelik dit is vir haar ’n emosionele uitlating om woorde saam te flans en iets daaruit te skep.

“Dit help my deur donker tye en dit help my om deur goed te werk. Ek skryf oor enigiets en alles het op ’n manier betrekking op wat nou met my of my vriende gebeur of al gebeur het. Dit is baie persoonlik, maar ek hou daarvan om ’n ander rigting in te slaan of dit effens te verdraai,” skerts Fielies.

Sy is ’n geregistreerde digter wat haar skryfwerk publiseer op Wattpad, ’n aanlynskrywersplatform wat daarop gemik is om amateurskrywers die platform te bied om hul skryfwerk ten toon te stel.

“Ek het al 138 gedigte op hierdie platform. Ek is trots op elkeen. Soms gaan ek deur goed in die lewe en dan gaan herlees ek van my ou gedigte en pas dit aan. Gedigte is ook soos mense. Dit lewe en dit groei. Dit maak dit wonderlik.”

Sy wil egter nie net by gedigte stilstaan nie.

“Ek skryf ook kortverhale en opstelle. Dit is altyd lekker om ’n unieke draaipunt in te bring. Ek het altyd gedink gedigte moet rym, maar daar is soveel vrye teuels wat dit aanbetref – so ook met alle vorms van skryfwerk.”

Sy beskryf haarself ook as ’n kultuur-dier, hoewel sy ook aan sport deelgeneem het.

Vanjaar was haar fokus egter net op haar skoolwerk en haar skryfwerk.

Enigeen kan na Fielies uitreik by nadinefielies55@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article