Twee mans, wat verlangs familie van mekaar is en later die aand ná jare se gesoek sou herenig, is die afgelope naweek in dieselfde botsing naby Merwida-wynkelder buite Rawsonville dood.
Die Van der Merwe-gesin se rooi Volkswagen Golf het Saterdag 27 Augustus omstreeks 17:00 op die pad tussen Rawsonville en Worcester gebreek. Die gesin het in hul uur van nood, danksy ’n nabye plaas se werkers, hulp gekry by ’n man wat daar naby woon.
Hy het hulle dadelik te hulp gesnel en sommer langs die pad aan die voertuig begin werk.
“My broer, Jan Sass (49), het aan die kar gaan werk. Hy sou daardie dag met ’n langverlore familielid, Jan van der Merwe (61), wat in Wellington woon en wat ons ná jare weer opgespoor het, herenig.
“Nooit sou ons kon dink dat my broer in so ’n ongeluk sou sterf nie, maar nooit sou ons kon dink dat die ander persoon wat dood is, ons lang verlore familielid is nie.
“Albei se lewe is geneem voordat ons ordentlik kon ontmoet,” vertel Sass se suster, Mariaan.
Dit het omstreeks 19:00 begin donker raak, maar hulle moes die voertuig weer rybaar kry.
Volgens die Rawsonville-polisie het ’n wit Nissan-bakkie in die pad van Worcester se kant af aangery gekom en teen die rooi Volkswagen en ’n wit Quantum-minibus (wat lig verskaf het terwyl hulle aan die voertuig gewerk het) vasgery.
Jan van der Merwe en Jan Sass is in dié botsing dood. Nog sewe mense moes mediese behandeling ontvang.
Volgens Mariaan het hulle minute ná die botsing ’n oproep gekry wat hul familie se lewe onherroeplik verander het.
“’n Naasbestaande het ons gebel en gesê daar was ’n ongeluk, maar ons nie ingelig dat iemand dood is nie. Ons is toe dadelik na die toneel en het daar uitgevind my broer (Sass) en ons ander familielid, wat ons nog nie kon leer ken nadat hy jare weg was nie (Van der Merwe) is dood.”
Mariaan sê haar broer se dood is moeilik om te verwerk en die familie vat dit maar dag vir dag.
“Hy sou op 9 September sy vyftigste verjaarsdag gevier het. Hy was ’n goeie man. Hy was hardwerkend en het nooit ’n dag in sy lewe sommer werk gemis nie. Almal sal hom onthou as ’n mense-mens. Ek kan nie glo dat hy nie meer hier is nie. Hy was ’n ywerige mens en het ’n groot vriendekring gehad. Ons kon altyd op hom staatmaak.”
Sy sê dit was vir haar baie erg om haar broer so te sien lê.
“Hulle het bo-oor sy lyf gery. Sy kop en skedel was pap gebreek. Sy arme kinders. Ek kry hulle so jammer.”
Standard het probeer kontak maak met familielede van die Van der Merwe-gesin, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Die Sass-gesin sal Jan op 10 September, ’n dag ná sy 50ste verjaarsdag, ter ruste lê. Enigeen wat die gesin wil bystaan, kan Mariaan by 061 995 6769 bel. Die gesin het ’n groot behoefte aan vervoer vir familielede wat in Avianpark woon tot by die begrafnis in Rawsonville.




