’n Man (41), oorspronklik van Elsiesrivier, het gister (Woensdag 9 Oktober) op ’n moordklag in die Bonnievale-landdroshof verskyn nadat hy na bewering sy vriendin met die nek van ’n gebreekte bottel doodgesteek het.

Die oorledene is die 30-jarige Devonia van Wyngaardt van Bonnievale. Die paartjie het tot en met die voorval ’n huis in Glasogiestraat, Avianpark, in Worcester, gedeel. Die voorval het gebeur toe hulle die afgelope naweek by familie in Bonnievale gaan kuier het.

AO Meryll Africa, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie het Saterdag (5 Oktober) omstreeks 04:43 ’n klagte ontvang oor ’n 30-jarige vrou wat in Viooltjie-singel, Mountain View in Bonnievale, met ’n skerp voorwerp aangeval is. Met die polisie se aankoms op die toneel het wetstoepassers afgekom op ’n vrou wat langs die pad in Viooltjiestraat lê. Haar kop en gesig was oortrek met bloed. Sy het geen teken van lewe getoon nie.

Stukke glas is langs haar aangetref.

Mediese personeel het wonde aan die regterkant van haar nek en regterwang uitgewys.

Sy is op die toneel dood verklaar.

Die polisie bevestig dat die slagoffer en haar vriend ten tyde van die voorval familie in Bonnievale besoek het. Dis hier waar die vriend haar na bewering aangeval het.

Die oorledene se aanvaller het ná die voorval op die vlug geslaan.

Beslag is gelê op ’n bebloede bottelnek, vermoedelik die moordwapen.

Volgens Africa het die polisie se ondersoek hulle na Ravensmead gelei waar die beskuldigde in sy pa se huis in hegtenis geneem is.

Die motief vir die voorval is in dié stadium nog onbekend.

. In nog ’n voorval het ’n 21-jarige man Dinsdag (8 Oktober) op ’n moordklag in die Bonnievale-landdroshof verskyn.

Volgens Africa het die mediese nooddienste die Bonnievale-polisie Sondagoggend (6 Oktober) omstreeks 04:40 versoek om hulle te vergesel na die Bonnievale- informele nedersetting.

Die polisie is op die toneel meegedeel dat ’n bakleiery vroeër tussen die beskuldigde en twee ander mans uitgebreek het, waarna hy hulle met ’n onbekende voorwerp gesteek het.

Mediese personeel het die oorledene, Zakahle Nicholas Simelane (23) van Bonnievale, op die toneel dood verklaar. Hy het steekwonde aan die bors en regterkant van sy lyf opgedoen.

Die tweede man wat in dieselfde voorval beseer is, is vir mediese behandeling hospitaal toe geneem.

Die polisie het nog nie sy verklaring afgeneem nie.

Volgens Africa is die beskuldigde later Sondagoggend in hegtenis geneem nadat hy hom aan die polisie oorgegee het.

Africa sê die vermeende aanvaller het die polisie uit vrees vir sy lewe gekontak en versoek om hom te kom haal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article