Familie van ‘n man wat werk by Kaap Agri in De Doorns is rasend van kommer nadat hy die afgelope Maandag in die middel van die dag spoorloos uit die dorp verdwyn het.
Lillian Gerber, die sussie van Morné Olivier (42), ‘n junior bestuurder by Kaap Agri in De Doorns, sê hy het die Maandag gekla hy voel nie lekker nie toe hy sy werk net na 11:00 verlaat het. Sedertdien is hy weg.
“Hy is teen 11:30 by die Engen-vulstasie se winkel buite De Doorns gesien waar hy vir hom kos gekoop het. Hy ry ‘n wit Volkswagen Citi Golf met die registrasienommer CT21427. Ons is nie seker of hy voor dit of na dit na die apteek toe is nie,” sê Gerber.
Volgens Gerber het Olivier normaal opgetree voor hy verdwyn het en was niks uit plek gewees nie.
Daar is gerugte dat Olivier se motor teen 15:10 glo in Oudtshoorn gesien is. “Ons kon dit nog nie bevestig deur beeldmateriaal nie, so ons is tans onseker waar hy homself bevind. Ons is baie bekommerd,” sê Gerber.
Daar is ook nog geen geld uit sy rekening onttrek sedert hy verdwyn het nie, sê sy.
Die Pink Ladies-organisasie vir vermiste persone het ‘n pamflet versprei van Olivier. Hy het laas ‘n blou T-hemp met ‘n donkerblou baadjie en jeans met bruin skoene aangehad. Hy het kort bruin hare, weeg 115 kg en is 1,93 m lank.
Mense met enige inligting oor waar Olivier hom bevind, kan die Pink Ladies skakel by 072 214 7439 of De Doorns-polisie skakel by 023 356 4020.

