Die familie van die 24-jarige man wat verlede week verdrink het, is baie hartseer oor sy skielike sterfte.
Maunrick Adendorff en ’n paar van sy vriende het Vrydag 10 November tussen 13:00 en 14:00 by die swemgat Hoekpoel op Bainskloofpas gaan swem.
Dit is in hierdie stadium nog onbekend wat tot sy verdrinking gelei het.
Sy ma, Catherine, en suster, Mariska, is hard deur sy dood getref.
“Ek gaan gewis sy glimlag mis. Hy het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad,” sê Mariska.
Sy ma gaan op haar beurt sy liefdevolle gesindheid mis.
“Ek gaan die soentjies mis. Soggens voordat hy werk toe gegaan het, het hy my ’n soentjie gegee en saans wanneer hy van die werk af gekom het, het hy my weer ’n soentjie gegee. Hy was ’n liefdevolle mens en was lief daarvoor om ander mense te help. Hy was ook lief daarvoor om aan motors te werk en het graag ons buurman oorkant die pad met sulke werk gehelp,” vertel sy ma aan Standard & Gazette.
Sy sê hy het baie vriende gehad omdat hy juis ’n mense-mens was.
Maunrick was vir twee weke op verlof en sou vandeesweek terugkeer werk toe. Catherine en Mariska het die tyding van Maunrick se sterfte Vrydag om 18:00 ontvang.
“Ons het by die huis gesit toe een van sy vriendinne daar aankom en vra of ons al die tyding oor Maunrick se verdrinking ontvang het. Dit was ’n groot skok en ’n ander tipe oomblik vir ons. Mariska het sommer dadelik in haar motor geklim om na die toneel te ry, maar ek het ’n familielid gevra om saam met haar te ry. Toe hulle by die toneel aankom, het sy uit die motor gespring, nog voordat dit reg gestop het, en flou geword.”
’n Familielid vertel dat ’n vriendin van Maunrick by Bainskloof af, in die rigting van Wolseley, moes stap om ’n selfoonsein te kry sodat sy die nooddienste kon ontbied.
Priority Care-ambulansdienste het op die verdrinking gereageer. Volgens ’n inskrywing op hul Facebookblad was iemand reeds besig met kardiopulmonêre resussitasie op Maunrick toe hulle op die toneel opdaag. “Met ons personeel se aankoms op die toneel was ’n paramedikus wat nie aan diens was nie, besig met kardiopulmonêre resussitasie. Ten spyte van ons span se poging, en verskeie rondes van resussitasie, is die pasiënt ongelukkig op die toneel dood verklaar.”





