Die teen-bende-eenheid verbonde aan die Worcester-polisie het verlede week beslag gelê op ’n groot hoeveelheid daggaplante en heelwat toerusting vir die kweek en verwerk van dagga by ’n huis in Rouxpark.

Die eenheid het op Dinsdag 6 Augustus inligting ontvang van iemand wat glo dagga kweek en verkoop.

“Hulle het die adres Dinsdag om 15:45 gaan besoek en die eienaar van die huis gevra of hy dagga kweek, waarop die eienaar gesê het, ja, hy kweek minimale boompies vir persoonlike gebruik,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Ná die gesprek het beamptes van die eenheid die perseel ondersoek en op dagga in verskeie vorms, asook verskeie dagga verwante toebehore afgekom.

“Onder meer het hulle 90 daggaplante in die bloei, 207 kleiner daggaplante en 13 houers vol los dagga in die huis se motorhuis tydens hul soektog gevind,” het Jacobs gesê.

Ander toerusting sluit in ’n draagbare lugverkoeler, verskeie waaiers, besproeiingstelsels, twee glaspotte vol los dagga, twee swart sakke vol los dagga, twee dagga-damprokers, sewe hervullings vir die damprokers, sewe potjies daggasalf en 52 klaar gerolde daggapille.

Die manlike eienaar van die huis is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn. Dit is tans onduidelik wanneer hy in die hof sal verskyn en watter aanklagte presies teen hom geopen is.

Hoewel die besit en kweek van dagga nou wettig is in Suid-Afrika, is daar ’n wettige limiet wat deur verbruikers nagekom moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article