’n Dertigjarige man het Maandag (18 Maart) in die hof verskyn nadat ’n 19-jarige vrou noodlottig geskiet is.
Die voorval het Saterdag 16 Maart om 04:30 in Danielsstraat, Roodewal, plaasgevind.
“Die polisie het ’n klagte oor ’n skietery ontvang en ondersoek gaan instel. Met hul aankoms op die toneel het hulle die vrou op die grond kry lê. Haar klere was vol bloed en die ambulans is onmiddellik ontbied. Paramedici het bevind sy het ’n skietwond aan haar linkerbeen en haar na die hospitaal geneem vir behandeling. Sy het egter later aan die skietwond beswyk,” sê AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.
Die verdagte is volgens die klagstaat die volgende dag (Sondag 17 Maart) in hegtenis geneem. Dit is in hierdie stadium nog nie duidelik wat tot die skietery aanleiding gegee het en of die oorledene, Monica Swartz, en die verdagte mekaar geken het nie.
’n Vriend van Swartz het ná die nuus van haar sterfte ’n inskrywing op sy Facebook-bad geplaas.
“Liewe Monica, ek het jou ongeveer agt jaar gelede ontmoet, jy was die mees omgee-mens, jy was liefdevol en bowenal was jy die mees respekvolle mens wat ek leer ken het. Nou is jy nie meer hier nie, ek gaan jou so mis, ek dink nie ek sal ooit weer ’n vriend soos jy kry nie. Ek gaan dit mis wanneer jy teen my deur geskop het, dan het ek geweet ek moet opstaan vir werk. Weet dit sal nooit meer gebeur nie. Monica, ek sal die herinneringe koester wat jy agtergelaat het en dankie dat jy my vriendin was en bowenal was jy soos ’n suster vir my. My hart is stukkend, maar ek weet waar jy is, dat jy op ’n beter plek is,” lui die inskrywing.
Die verdagte sal op 16 April weer in die hof verskyn.



