‘n Man wat ouer as 50 is, is tronk toe gestuur nadat hy ‘n 18-jarige vrou verlede jaar in ‘n huis in Riverview verkrag het.

Tomlin le Roux (52) van Riverview in Worcester is 14 jaar tronktraf opgelê, waarvan vier jaar vir vyf jaar opgeskort is.

Hy het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan nadat hy skuld op ‘n aanklag van verkragting beken het.

Volgens Le Roux het hy die klaagster raakgeloop toe sy op 10 Junie 2024 by ‘n woning in Riverview aangedoen het. Hy het erken hy ken die klaagster baie goed omdat sy gereeld by die betrokke woning aangedoen het.

Le Roux sê op die dag van die voorval het die klaagster die woning besoek. Sy het na iemand daar gevra.

Volgens hom het hy – soos gewoonlik – die klaagster ingenooi en aangebied om vir haar koffie te maak terwyl sy op die vrou wat sy daar kom soek het, wag.

Hy sê hy het opportunisties besluit om praatjies van ‘n seksuele aard met die klaagster aan te knoop.

Le Roux erken die klaagster het sy toenadering verwerp. Volgens hom het hy haar fisiek oorweldig, haar klere van haar lyf af geruk en haar verkrag.

Hy erken hy het die daad van seksuele penetrasie sonder die klaagster se toestemming gepleeg.

Volgens Le Roux het die klaagster haar tydens die walglike daad deurentyd probeer teësit, maar fisiek was sy nie in staat om dit te doen nie.

In sy pleitooreenkoms sê hy dat hy die klaagster – nadat hy die daad gepleeg het – laat gaan het.

Le Roux erken hy het te alle relevante tye onregmatig en doelbewus opgetree en geweet sy optrede was ingevolge die wet verkeerd en strafbaar.

Met betrekking tot die verswarende omstandighede het die hof gehoor dat die klaagster ná die voorval getraumatiseerd gelaat is.

Sy het berading ontvang vir die emosionele en sielkundige trauma wat sy ervaar het.

Die klaagster het voorts ‘n goeie verhouding met die betrokke familie wat woon waar die voorval plaasgevind het, gehad. Dié familie het haar ná die voorval deurentyd ondersteun.

Wat die versagtende omstandighede betref, het Le Roux skuld beken en berou getoon. Hy het voorts sy spyt oor sy optrede uitgespreek asook vir die negatiewe impak wat dit op die klaagster se lewe gehad het.

Amisha Ratanjie was die aanklaer. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article