Die skuldige in ’n verkragtingsaak wat in 2020 aanhangig gemaak is, is vroeër die maand tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die voorval het op 21 Augustus 2020 om 20:00 in Swartpad, Zwelethemba, plaasgevind.
Volgens die polisie het die slagoffer saam met die beskuldigde vroeër die aand by ’n taverne gedrink.
“Hy het haar met ’n bierbottel geslaan toe hulle klaar gedrink het en gesê sy moet saam met hom na sy woning gaan vir geslagsgemeenskap. Sy het toe geweier en hy het haar weer geslaan en met geweld na sy woning geneem waar hy haar verkrag het,” het ’n woordvoerder van die polisie verduidelik.
Die slagoffer het die volgende dag by die polisie ’n saak teen haar verkragter gaan maak.
Die man, Joseph Matantu Mokhola, wat nou 31 oud is, is op 24 Augustus in hegtenis geneem.
Die slagoffer het egter tydens die verloop van die hofverrigtinge na die Oos-Kaap verhuis, maar die staat het reëlings getref dat sy steeds verrigtinge kan bywoon. Die beskuldigde is op 7 Junie tronkstraf opgelê.


