’n Man is Maandagaand tydens beurtkrag in die Roodewal-woonstelle doodgeskiet.
Volgens die polisie het die voorval omstreeks 22:45 tussen die U- en V-blokke gebeur.
“Die polisie het ’n klagte ontvang van ’n skietery wat aan die gang was. Met die beamptes se aankoms op die toneel het hulle die lyk van ’n lewelose man langs die V-blok gevind. Later is ontdek dat die man ’n enkele skietwond in die kop gehad het,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.
Omstanders het egter aan die polisie gesê hulle het ses skote hoor afgaan.
“Die omstanders het ook gesê hulle het, nadat die skote afgevuur is, vyf mans van die toneel af sien vlug,” het Jacobs gesê.
Sy noem ook dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat tot die skietery en die slagoffer se dood gelei het.
Oor die naweek was daar ook ’n skietery in Riverview.
Hierdie voorval het om 20:09 by die V-blok plaasgevind.
Niemand is in hierdie voorval raakgeskiet nie.
Die polisie weet ook nog nie wat die rede vir hierdie skietery was nie. Dit is ook onduidelik of die twee gevalle enige verband met mekaar hou en of dit enigsins bendeverwant is.
Niemand is nog weens enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie, en die polisie se ondersoeke duur steeds voort.




