’n Man (65) van Montagu het Sondag (6 Oktober) aan sy brandwonde beswyk nadat sy voertuig Vrydag (4 Oktober) in die Bodorp in Montagu aan die brand geslaan het.

Die oorledene is PG Skippers van Fluksstraat in Montagu.

AO Suria Meyer, ’n polisiewoordvoerder, sê die Montagu-polisie, wat Vrydag in die Bodorp met patrolliewerk besig was, het rook in die lug sien trek.

Kort hierna het hulle op ’n motor, ’n Audi, wat in Fluksstraat aan die brand was, afgekom. Inwoners was in daardie stadium reeds besig om die vlamme te probeer blus.

Die polisie het by nadere ondersoek vasgestel daar is ’n insittende in die brandende motor. Die wetstoepassers het onmiddellik die nooddienste ontbied.

Meyer sê dit is in dié stadium onbekend of Skippers in die motor vasgekeer was. Volgens haar het nooddienspersoneel Skippers uit die voertuig gehaal en noodbehandeling op die toneel op hom toegepas. Hy was in daardie stadium by sy volle bewussyn en is later per ambulans hospitaal toe geneem.

Volgens Meyer het Skippers Sondag in die hospitaal aan sy brandwonde beswyk.

Die polisie doen tans ’n geregtelike doodsondersoek.

Meyer sê die oorsaak van die brand is in dié stadium nog onbekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article