Die Worcester-polisie is op soek na die moordenaars van ’n 32-jarige man.

Die slagoffer is na bewering Vrydag 16 Februarie deur ’n groep mense op ’n plaas in Goudiniweg aangerand.

“Lede van die gemeenskap het die polisie om 20:15 na die toneel ontbied. Volgens die klagte was ’n groep mense besig om die oorledene aan te rand. Met die polisie se aankoms op die toneel het die gemeenskap die polisie gewys waar die man lê. Hy het veelvuldige beserings aan sy lyf gehad. Hy is glo ook herhaaldelik met ’n sambok geslaan,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.

Die ambulans is onmiddellik na die toneel ontbied.

“Die slagoffer het nog gelewe toe die ambulans op die toneel aankom. Hy is na die Worcester-hospitaal geneem.”

Die 32-jarige het egter later die aand aan veelvuldige beserings beswyk.

“Dit is in hierdie stadium nog onduidelik hoekom die man deur die groep mense aangerand is. Met die polisie se aankoms op die toneel was die groep mense nie meer daar nie. Die saak word steeds ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Jacobs.

. Kontak die Worcester-polisie by 023 348 8600 met enige inligting oor die voorval.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article