’n Man wat inbrekers op hul plaas net buite Worcester agterna gesit het, het sy vrou per ongeluk raakgeskiet.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het die voorval Maandagoggend om 03:00 plaasgevind op ’n plaas naby die Wolseley-pad, nader aan Worcester se kant.
“Volgens die man het hy wakker geword as gevolg van geluide wat hy in die huis gehoor het. Toe hy sy oë oopmaak, het hy ’n lig in die huis gesien en besef dit is ’n selfoon se lig. Hy het gedink dit is sy vrou, aangesien hulle in aparte kamers in die huis slaap.
“Hy het later weer wakker geword as gevolg van stemme wat hy in sy slaapkamer gehoor het. Hy het verduidelik twee mans het aan weerskante van sy bed kom staan en hom op die bed probeer neerdruk en vaspen,” verduidelik Jacobs.
Verder verduidelik sy die man het op ’n manier losgekom en daarin geslaag om sy vrou se .38 Special-rewolwer, wat in die slaapkamer was, in die hande te kry.
“Hy het die rewolwer afgevuur en albei mans het toe gevlug. Hy het hulle in die donkerte agternagesit. Hy het egter gesien iemand hardloop in sy rigting, maar kon nie uitmaak wie dit was nie, en nog ’n skoot gevuur.
“Sy vrou het toe geskreeu en gesê sy is raakgeskiet,” se Jacobs.
’n Koeël het die vrou in een van haar arms getref.
Volgens Jacobs het sy vroeër die week ’n operasie ondergaan om die koeël te verwyder en sterk tans aan.
Niemand is nog in hierdie stadium in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie se ondersoek na die inbraak en skietvoorval duur steeds voort.


